Monday 21 December 2009

Die Evangelie van Lukas - Hoofstuk 24, gelees deur andre


1
Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het.

2
Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af;

3
en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie.

4
Hulle het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Meteens staan daar by hulle twee manne met blink klere aan.

5
Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: "Waarom soek julle die Lewende by die dooies?

6
Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was

7
en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan."

8
Toe het hulle sy woorde onthou

9
en van die graf af teruggegaan en al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel.

10
Die vroue was Maria Magdalena en Johanna en Maria die ma van Jakobus. Ook die ander vroue saam met hulle het dieselfde dinge aan die apostels vertel.

11
Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie.

12
Petrus het egter opgespring en na die graf toe gehardloop. Toe hy daar vooroor buk, sien hy net die doeke. Vol verwondering oor wat gebeur het, is hy terug huis toe.

13
Op dieselfde dag was twee van hulle op pad na 'n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af.

14
Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het.

15
Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop,

16
maar hulle oë is verhinder om Hom te herken.

17
Hy vra hulle toe: "Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?" Met somber gesigte gaan hulle staan,

18
en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: "Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?"

19
Hy vra vir hulle toe: "Watter dinge?" Hulle antwoord Hom: "Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, 'n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk;

20
en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het.

21
Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het.

22
En nou het 'n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf

23
en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle 'n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe.

24
Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie."

25
Toe sê Hy vir hulle: "Wat 'n gebrek aan begrip en wat 'n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie?

26
Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?"

27
Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.

28
Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan.

29
Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: "Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby." Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly.

30
Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle.

31
Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn.

32
Hulle sê toe vir mekaar: "Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?"

33
Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar,

34
en dié sê: "Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!"

35
Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het, en hoe Hy aan hulle bekend geword het toe Hy die brood gebreek het.

36
Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: "Vrede vir julle!"

37
Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien 'n gees.

38
Hy sê toe vir hulle: "Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte?

39
Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! 'n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie."

40
Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.

41
Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie, sê Hy vir hulle: "Het julle hier iets om te eet?"

42
Hulle gee Hom toe 'n stuk gebakte vis.

43
Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet.

44
Daarna sê Hy vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is."

45
Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.

46
Verder sê Hy vir hulle: "So staan daar geskrywe: 'Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan,

47
en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.'

48
Julle is getuies van hierdie dinge.

49
En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is."

50
Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën.

51
Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.

52
Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan.

53
Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.

Die Evangelie van Lukas - Hoofstuk 23, gelees deur andre

1

Daarna het die hele vergadering opgestaan en Jesus na Pilatus toe gebring.
2

Daar het hulle die aanklag teen Hom begin deur te sê: "Ons het bevind dat hierdie man ons volk ophits: hy belet hulle om aan die keiser belasting te betaal en beweer dat hy die Christus, die koning, is."
3

Pilatus vra Hom toe: "Is jy die koning van die Jode?" Hy antwoord hom: "Dit is soos u sê."
4

Daarop sê Pilatus vir die priesterhoofde en die skare: "Ek vind geen skuld in hierdie man nie."
5

Maar hulle het sterker aangedring en gesê: "Die hele Joodse land deur stook hy die volk op met sy leer. Hy het van Galilea af begin en tot hier daarmee gekom."
6

Toe Pilatus dit hoor, vra hy of die man dan 'n Galileër is.
7

Nadat hy te wete gekom het dat Jesus uit die magsgebied van Herodes afkomstig was, het hy Hom na Herodes toe gestuur, wat juis in daardie tyd self in Jerusalem was.
8

Herodes was baie bly om Jesus te sien. Omdat hy soveel van Hom gehoor het, het hy al 'n geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen.
9

Hy het allerlei vrae aan Hom gestel, maar Jesus het hom niks geantwoord nie.
10

Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het Hom heftig gestaan en beskuldig.
11

Herodes en sy soldate het Hom toe met veragting behandel. Hy het Hom 'n deftige kleed laat omhang, met Hom die spot gedryf en Hom daarna na Pilatus toe teruggestuur.
12

Op daardie dag het Herodes en Pilatus vriende geword. Voorheen was daar kwaaivriendskap tussen hulle.
13

Daarna het Pilatus die priesterhoofde, die lede van die Joodse Raad en die volk bymekaar geroep
14

en vir hulle gesê: "Julle het hierdie man voor my gebring as 'n opruier van die volk. Nou het ek in julle teenwoordigheid die saak ondersoek, en ek het in hierdie man geen grond gevind vir die aanklag wat julle teen hom inbring nie.
15

Herodes het ook nie, want hy het hom na ons toe teruggestuur. Hy het beslis niks gedoen wat die dood verdien nie.
16

Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat."
18

Maar soos een man het hulle geskreeu: "Weg met hom!
19

Laat Barabbas vir ons los!" Barabbas was in die tronk oor 'n opstand in die stad en oor moord.
20

Omdat Pilatus vir Jesus wou loslaat, het hy weer met hulle gepraat,
21

maar hulle het aanhoudend uitgeroep: "Kruisig, kruisig hom!"
22

Die derde keer sê Pilatus vir hulle: "Watter kwaad het die man gedoen? Ek het in hom niks gekry wat die doodstraf regverdig nie. Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat."
23

Hulle het egter met 'n harde geskreeu aangehou om te eis dat Jesus gekruisig moes word, en met hulle geskreeu het hulle die oorhand gekry.
24

Pilatus het toe besluit dat aan hulle eis voldoen moes word.
25

Die man wat oor opstand en moord in die tronk was, het hy vrygelaat, soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy uitgelewer, soos hulle wou hê.
26

Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle 'n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.
27

'n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het.
28

Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: "Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders,
29

want daar kom dae waarin hulle sal sê: 'Hoe gelukkig is die onvrugbare vroue en dié wat nooit 'n kind in die wêreld gebring het of gevoed het nie.'
30

"Dan sal hulle vir die berge sê: 'Val op ons!' en vir die heuwels: 'Bedek ons!'
31

As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?"
32

Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word.
33

Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant.
34

Toe sê Jesus: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!" Hulle het sy klere verdeel deur te loot.
35

Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: "Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is."
36

Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied
37

en gesê: "As jy die koning van die Jode is, red jouself."
38

Daar was ook 'n opskrif bokant Hom: "Dit is die koning van die Jode."
39

Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: "Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!"
40

Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: "Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man!
41

In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie."
42

Verder sê hy: "Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom."
43

Jesus antwoord hom: "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees."
44

Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur;
45

die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur.
46

Jesus het hard uitgeroep: "Vader, in u hande gee Ek my gees oor." Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.
47

Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: "Hierdie man was werklik onskuldig."
48

Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan.
49

Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op 'n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien.
50

Daar was 'n man met die naam Josef, afkomstig van 'n Joodse dorpie Arimatea. Hy was 'n goeie en opregte man en het die koms van die koninkryk van God verwag.
51

Hoewel hy lid van die Joodse Raad was, het hy nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie.

52
Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra.

53
Nadat hy dit van die kruis afgehaal het, het hy dit in linne toegedraai en in 'n rotsgraf neergelê waarin nog nooit tevore iemand begrawe was nie.
54

Dit was Vrydag, en die sabbat het al begin aanbreek.
55

Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het saamgeloop en die graf gesien en gekyk hoe sy liggaam neergelê word.
56

Daarna het hulle huis toe gegaan en reukolie en salf reggemaak. Op die sabbatdag het hulle gerus, soos die gebod bepaal.

Die Evangelie van Lukas - Hoofstuk 22, gelees deur andre

1 Die fees van die ongesuurde brood, wat pasga genoem word, was naby. 2 Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes wou Jesus uit die weg ruim, maar omdat hulle bang was vir die volk, het hulle nog gesoek na 'n manier om dit te doen. 3 Die Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is en een van die twaalf was, ingevaar. 4 Hy het toe met die priesterhoofde en die offisiere van die tempelwag gaan praat oor hoe hy Jesus in hulle hande kan laat kom. 5 Hulle was bly en het ooreengekom om hom daarvoor te betaal. 6 Hy het ingestem en na 'n geskikte geleentheid gesoek om Jesus te verraai waar die volk nie by is nie. 7 Die dag van die ongesuurde brood, waarop die paaslam geslag moes word, het aangebreek. 8 Jesus stuur toe vir Petrus en Johannes vooruit met die opdrag: "Gaan berei die paasmaaltyd vir ons voor dat ons dit kan eet." 9 Hulle vra Hom: "Waar wil U hê moet ons dit voorberei?" 10 Toe antwoord Hy hulle: "Kyk, net soos julle die stad ingaan, sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom tot in die huis waar hy ingaan, 11 en sê vir die eienaar van die huis: 'Ons Leermeester vra u: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?' 12 En hy sal julle 'n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle dit voorberei." 13 Hulle het gegaan en dit gekry net soos Jesus vir hulle gesê het, en die paasmaaltyd voorberei. 14 Toe dit tyd was, het Jesus aan tafel gegaan en die apostels saam met Hom. 15 Hy sê toe vir hulle: "Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly. 16 Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie." 17 Daarna neem Hy 'n beker, spreek die dankgebed uit en sê: "Neem dit en gee dit vir mekaar aan. 18 Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink voordat die koninkryk van God gekom het nie." 19 Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: "Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis." 20 Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: "Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word. 21 "Maar kyk, die hand van die man wat My verraai, is saam met Myne hier op die tafel. 22 Met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit voorbeskik is, maar wee die man deur wie Hy verraai word!" 23 Toe begin hulle mekaar uitvra wie van hulle dit kon wees wat so iets sou doen. 24 Daar het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. 25 Maar Jesus sê vir hulle: "By die nasies is dit so: konings speel oor hulle baas, en dié wat gesag afdwing, laat hulleself weldoeners noem. 26 Maar by julle moet dit nie so wees nie. Inteendeel, die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien. 27 Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is, of die een wat bedien? Tog hy wat aan tafel is, nie waar nie? Maar Ek is in julle kring soos die een wat dien. 28 "Julle is die mense wat in my beproewings altyddeur by My gebly het. 29 Net soos my Vader 'n koninkryk aan My bemaak het, so bemaak Ek 'n koninkryk aan julle, 30 sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink en op trone kan sit om oor die twaalf stamme van Israel te regeer." 31 "Simon, Simon!" het Jesus gesê. "Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. 32 Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk." 33 Petrus sê vir Hom: "Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangeneskap en dood in te gaan." 34 Maar Hy antwoord: "Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie." 35 Verder het Jesus vir hulle gesê: "Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie en reissak en skoene, het julle iets kortgekom?" "Nee, niks nie!" was hulle antwoord. 36 Toe sê Hy vir hulle: "Maar nou, wie 'n beursie het, moet dit saamneem, en net so ook 'n reissak. En wie nie 'n swaard het nie, moet van sy klere verkoop en een aanskaf. 37 Ek sê vir julle: Die Skrifwoord wat sê: 'En Hy is as misdadiger beskou,' 38 Hulle sê toe: "Here, kyk hier is twee swaarde." "Ons laat dit daarby," antwoord Hy hulle. 39 Jesus het die stad verlaat en volgens gewoonte Olyfberg toe gegaan, en sy dissipels het Hom gevolg. 40 Toe Hy op die plek aankom, sê Hy vir hulle: "Bid dat julle nie in versoeking kom nie." 41 Hy het Hom toe van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi. Daar het Hy gekniel en gebid: 42 "Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!" 43 'n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. 44 Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val. 45 Toe Hy van die gebed opstaan en by die dissipels kom, kry Hy hulle aan die slaap, uitgeput van droefheid. 46 Hy sê toe vir hulle: "Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie." 47 Terwyl Jesus nog praat, kom 'n klomp mense daar aan. Die een wat Judas genoem is, een van die twaalf, het hulle gelei en nader gekom na Jesus toe om Hom te soen. 48 Maar Jesus sê vir hom: "Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n soen?" 49 Toe dié wat saam met Jesus was, sien wat gaan gebeur, vra hulle: "Here, moet ons hulle met die swaard aanval?" 50 Een van hulle slaan toe na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. 51 Maar Jesus sê: "Hou op daarmee!" Daarna het Hy die oor aangeraak en hom genees. 52 Toe sê Jesus vir die priesterhoofde, die offisiere van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het: "Trek julle met swaarde en stokke uit soos teen 'n rower? 53 Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie 'n hand uitgesteek om My te vang nie. Maar nou dat die tyd vir die duistere magte daar is, het julle julle kans." 54 Hulle het Jesus toe gevange geneem en Hom weggelei en in die huis van die hoëpriester gebring. Petrus het op 'n afstand agterna gekom. 55 In die middel van die binneplaas was daar 'n vuur, en daar het mense bymekaar gesit. Petrus het tussen hulle gaan sit. 56 'n Diensmeisie wat hom in die skynsel van die vuur sien sit het, het hom goed bekyk en gesê: "Dié een was ook saam met daardie man." 57 Maar Petrus het dit ontken deur te sê: "Juffrou, ek ken Hom nie!" 58 'n Rukkie later sien iemand anders hom en sê: "Jy is mos ook een van hulle." Maar Petrus antwoord: "Man, ek is nie!" 59 Na verloop van sowat 'n uur het nog een met beslistheid beweer: "Sowaar, dié een was ook saam met daardie man Hy is mos ook 'n Galileër!" 60 Maar Petrus sê: "Man, ek weet nie waarvan jy praat nie!" En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het daar 'n haan gekraai. 61 Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir hom gesê het: "Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën." 62 En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil. 63 Die manne wat vir Jesus bewaak het, het aangehou om met Hom die spot te dryf en Hom te slaan. 64 Hulle het Hom geblinddoek en gesê: "Jy is mos 'n profeet! Sê wie het jou geslaan!" 65 En nog baie ander godslasterlike dinge het hulle Hom toegesnou. 66 Toe dit dag word, het die Raad van die volk - die priesterhoofde en die skrifgeleerdes - vergader en Jesus voor hulle laat bring. 67 Hulle sê toe: "As jy die Christus is, sê dit vir ons." Maar Hy antwoord hulle: "Al sou Ek dit vir julle sê, sal julle tog nie glo nie; 68 en al sou Ek vir julle 'n vraag stel, sal julle ook nie antwoord nie. 69 Maar van nou af sal die Seun van die mens aan die regterhand van die almagtige God sit." 70 Toe vra hulle almal: "Dan is jy die Seun van God?" Hy sê vir hulle: "Dit is soos julle sê: Ek is!" 71 Daarop sê hulle: "Waarvoor het ons dan nog getuienis nodig? Ons het dit mos uit sy eie mond gehoor!"

Sunday 20 September 2009

Die Evangelie van Lukas - Hoofstuk 21, gelees deur andre

1 Jesus het rondgekyk en die rykes hulle gawes in die offergawekis sien gooi. 2 Hy sien toe ook 'n arm weduwee twee klein muntstukkies daar ingooi, 3 en Hy sê: "Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander. 4 Hulle het almal iets uit hulle oorvloed in die offergawekis gegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het om van te lewe." 5 Toe sommige oor die tempel praat, oor die pragtige klippe en gewyde geskenke waarmee dit versier was, sê Jesus: 6 "Alles wat julle sien - daar sal 'n tyd kom dat nie een klip op die ander gelaat sal word nie. Alles sal afgebreek word." 7 Hulle vra Hom toe: "Here, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat is die teken van wanneer dit gaan plaasvind?" 8 Hy antwoord: "Pas op dat julle nie mislei word nie, want baie sal onder my Naam kom en sê: 'Dit is ek!' en: 'Die tyd het aangebreek!' Moenie agter hulle aanloop nie! 9 Wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie beangs raak nie, want hierdie dinge moet eers plaasvind, maar dit is nog nie onmiddellik die einde nie." 10 Verder sê Hy vir hulle: "Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. 11 Daar sal groot aardbewings wees; hongersnode en epidemies sal op baie plekke voorkom. Daar sal skrikwekkende dinge wees en groot tekens van die hemel af. 12 "Maar nog voordat dit alles gebeur, sal hulle julle gevange neem en vervolg. Hulle sal julle oorlewer vir verhoor in die sinagoges en vir opsluiting in gevangenisse; hulle sal julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam. 13 Dit sal vir julle 'n geleentheid wees om van My te getuig. 14 Stel julle dus daarop in om julle nie vooraf oor julle verdediging te kwel nie, 15 want Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee wat deur geeneen van julle teenstanders teengespreek of weerlê kan word nie. 16 Julle sal selfs deur julle ouers en broers en familie en vriende verraai word, en hulle sal party van julle doodmaak. 17 En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar 18 daar sal selfs nie eens 'n haar van julle kop af val nie. 19 Deur julle volharding moet julle julleself red." 20 "Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. 21 Dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug, en dié wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie, 22 want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan bewaarheid. 23 "Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het, want daar sal groot nood in die land heers, en God sal hierdie volk straf. 24 "Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is." 25 "Daar sal tekens wees aan son, maan en sterre. Op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe. 26 Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. 27 En dan sal hulle die Seun van die mens met groot krag en majesteit op 'n wolk sien kom. 28 As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby." 29 En Hy vertel hulle 'n gelykenis: "Let op die vyeboom en al die ander bome. 30 Sodra julle sien dat hulle begin uitloop, weet julle vanself dat die somer al naby is. 31 Net so moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die koninkryk van God naby is. 32 Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal al hierdie dinge gebeur. 33 Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit." 34 "Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos 'n vangnet oorval nie. 35 Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die hele aarde neerkom. 36 Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn." 37 Bedags was Jesus in die tempel besig om die mense te leer, maar snags het Hy uitgegaan en buite op die Olyfberg vernag. 38 In die môre vroeg het die hele volk dan weer in die tempel na Hom kom luister.

Monday 14 September 2009

Die Evangelie van Lukas - Hoofstuk 20, gelees deur andre

1 Op een van daardie dae, toe Jesus by die tempel besig was om die volk te leer en aan hulle die evangelie te verkondig, het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes saam met die familiehoofde nader gestaan 2 en Hom gevra: "Sê vir ons, met watter gesag doen u hierdie dinge? Wie is dit wat u hierdie gesag gegee het?" 3 Hy antwoord hulle: "Ek gaan julle ook iets vra, en julle moet My dan sê: 4 Die doop van Johannes - kom dit van God of van mense af?" 5 Hulle redeneer toe onder mekaar: "As ons sê: 'Van God af,' sal hy sê: 'Waarom het julle hom dan nie geglo nie?' 6 En as ons sê: 'Van mense af,' sal die hele volk ons stenig, want hulle is daarvan oortuig dat Johannes 'n profeet is." 7 Toe antwoord hulle dat hulle nie weet waar dit vandaan kom nie. 8 Daarop sê Jesus vir hulle: "Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie." 9 Verder het Jesus aan die volk hierdie gelykenis vertel: "Daar was 'n man wat 'n wingerd aangeplant en dit aan boere verhuur het. Daarna was hy'n hele ruk weg van die huis af. 10 Toe dit tyd was daarvoor, stuur hy 'n slaaf na die boere toe om sy deel van die wingerd se opbrengs te gaan haal. Maar die boere het die slaaf geslaan en met leë hande weggejaag. 11 Die eienaar het weer probeer en 'n ander slaaf gestuur. Maar hulle het hierdie een ook geslaan en uitgeskel en met leë hande weggejaag. 12 Die eienaar het nog 'n keer probeer en 'n derde slaaf gestuur. Hulle het hom geslaan dat die bloed loop, en hom uit die wingerd uitgegooi. 13 "Toe sê die eienaar van die wingerd: 'Wat moet ek nou doen? Ek sal my geliefde seun stuur. Miskien sal hulle hom ontsien.' 14 Maar toe die boere hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer: 'Dit is die erfgenaam dié. Kom ons slaan hom dood, dan is die erfenis ons s'n.' 15 Toe gooi hulle hom uit die wingerd uit en slaan hom dood. Wat sal die eienaar van die wingerd dan met hulle doen? 16 Hy sal kom en daardie boere om die lewe bring en die wingerd vir ander mense gee." Dié wat dit gehoor het, sê toe: "Nee, dit moenie gebeur nie!" 17 Maar Jesus het hulle aangekyk en gesê: "Wat beteken hierdie Skrifwoord dan: 'Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword' 18 Elkeen wat op hierdie klip val, sal verpletter word; elkeen op wie hy val, sal hy vermorsel." 19 Die skrifgeleerdes en die priesterhoofde het besef dat Jesus met hierdie gelykenis op hulle gesinspeel het. Daarom wou hulle Hom sommer daar en dan gevange neem, maar hulle was bang vir die volk. 20 Hulle het hulle kans afgewag. Toe stuur hulle geheime agente wat hulle as opreg voorgedoen het, om Jesus op een of ander uitspraak te probeer vastrek sodat hulle Hom aan die owerheidsgesag van die goewerneur kon uitlewer. 21 Hulle vra Hom toe: "Meneer, ons weet dat u in u prediking en onderrig regsinnig is. U let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid, en so maak u die wil van God bekend. 22 Is dit reg dat ons aan die keiser belasting betaal, of is dit nie?" 23 Maar Jesus het deur hulle slimstreek gesien en vir hulle gesê: 24 "Wys vir My 'n muntstuk. Wie se kop en naam is daarop?" Hulle antwoord: "Die keiser s'n." 25 Toe sê Hy vir hulle: "Nou ja, gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort." 26 Hulle kon dit nie regkry om Hom voor die volk vas te trek op iets wat Hy gesê het nie. En verwonderd oor sy antwoord, het hulle maar stilgebly. 27 'n Aantal Sadduseërs - dit is die mense wat ontken dat daar 'n opstanding uit die dood is - kom toe nader en vra vir Jesus: 28 "Meneer, Moses het vir ons voorgeskryf: As iemand 'n getroude broer het wat kinderloos sterwe, moet hy met sy broer se weduwee trou en vir sy broer kinders verwek. 29 Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en kinderloos gesterwe. 30 Ook die tweede 31 en die derde het met die weduwee getrou en kinderloos gesterwe, en so het dit met al sewe gegaan. 32 Daarna het die vrou ook gesterwe. 33 Die vrou nou, wie se vrou word sy met die opstanding? Al sewe het haar mos as vrou gehad." 34 Jesus sê vir hulle: "In hierdie wêreld trou die mense met mekaar, 35 maar dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood, trou daar nie meer nie. 36 Hulle kan ook nie meer sterwe nie; hulle is soos die engele. Hulle is kinders van God, omdat hulle uit die dood opgestaan het. 37 Dat die dooies opgewek word, het Moses ook aangedui waar hy in die gedeelte oor die doringbos praat van 'die Here, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob' 38 Hy is nie 'n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal." 39 Toe sê sommige van die skrifgeleerdes: "Meneer, u het goed geantwoord." 40 Hulle het nie meer gewaag om Hom 'n enkele vraag te stel nie. 41 Maar Jesus het vir hulle gevra: "Hoe kan hulle sê dat die Christus die seun van Dawid is? 42 Dawid sê tog self in die boek van die Psalms: Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand 43 totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het. 44 Dawid noem Hom dus 'Here'; hoe kan Hy dan sy seun wees?" 45 Terwyl die hele volk na Jesus luister, sê Hy vir sy dissipels: 46 "Pas op vir die skrifgeleerdes, wat graag met hulle deftige klere aan rondstap. Hulle hou van die begroetings op straat, die voorste banke in die sinagoges en die ereplekke by die maaltye. 47 Dit is hulle wat die huise van die weduwees inpalm en vir die skyn lang gebede opsê. Hulle sal baie swaar gestraf word."

Sunday 16 August 2009

Die Evangelie van Lukas - Hoofstuk 19

1 Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. 2 Daar was 'n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, 'n ryk man. 3 Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. 4 Hy hardloop toe vooruit en klim in 'n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. 5 Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: "Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan." 6 Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang. 7 Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: "Hy gaan by 'n sondige man tuis!" 8 Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: "Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug." 9 Daarop sê Jesus: "Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is 'n kind van Abraham. 10 Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is." 11 Terwyl die mense na Jesus geluister het, het Hy nog 'n gelykenis vertel, aangesien Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het die koninkryk van God sou nou enige oomblik kom. 12 Hy het gesê: "'n Man van adellike afkoms het na 'n ver land toe op reis gegaan om as koning aangestel te word en dan terug te kom. 13 Vooraf het hy tien van sy slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: 'Dryf handel daarmee totdat ek terugkom.' 14 "Sy landgenote het hom egter gehaat en 'n afvaardiging agterna gestuur om te sê: 'Ons wil nie hierdie man as koning hê nie.' Maar hy het tog die koningskap ontvang. 15 "Nadat hy teruggekom het, het hy die slawe aan wie hy die geld gegee het, na hom toe laat roep, sodat hy kon verneem wat hulle met die handeldryf verdien het. 16 Die eerste het vorentoe gekom en gesê: 'Meneer, u muntstuk het tien muntstukke opgelewer.' 17 Daarop antwoord hy: 'Mooi so, jy is 'n goeie slaaf. Omdat jy in 'n saak van min belang getrou was, kry jy nou die bestuur oor tien stede.' 18 "Toe kom die tweede slaaf en sê: 'Meneer, u muntstuk het vyf muntstukke opgelewer.' 19 Aan hierdie een sê hy: 'En jy kry die bestuur oor vyf stede.' 20 "Nog 'n ander het gekom en gesê: 'Meneer, hier is u muntstuk. Ek het dit in 'n doek gebêre. 21 Ek was bang vir u, want u is 'n harde man. U eis op wat u nie belê het nie, en oes wat u nie gesaai het nie.' 22 Toe sê hy vir hom: 'Met jou eie woorde sal ek jou veroordeel. Jy is 'n slegte slaaf! As jy geweet het ek is 'n harde man wat opeis wat ek nie belê het nie, en oes wat ek nie gesaai het nie, 23 waarom het jy dan nie my geld in die bank gesit nie? Dan sou ek dit by my terugkoms darem met rente kon getrek het.' 24 Daarop sê hy vir dié wat daar staan: 'Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het.' 25 "Hulle sê vir hom: 'Meneer, hy het dan al tien muntstukke.' Maar hy antwoord: 26 Ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 27 En daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek hulle koning moet wees nie, bring hulle en maak hulle hier voor my dood!" 28 Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop, op pad na Jerusalem toe. 29 Toe Hy naby Betfage en Betanië kom, teen die Olyfberg, stuur Hy twee van sy dissipels vooruit met die opdrag: 30 "Gaan na die dorpie toe daar reg voor julle. Net soos julle inkom, sal julle daar 'n jong donkie kry wat vasgemaak staan. Geen mens het nog ooit op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier. 31 En as iemand vir julle vra: 'Waarom maak julle hom los?' moet julle antwoord: Die Here het hom nodig." 32 Die twee wat gestuur is, gaan toe en kry alles net soos Hy vir hulle gesê het. 33 Terwyl hulle die donkie losmaak, vra sy eienaars vir hulle: "Waarom maak julle die donkie los?" 34 Hulle antwoord: "Die Here het hom nodig." 35 Toe bring hulle die donkie na Jesus toe. Daarna gooi hulle van hulle klere op sy rug en help Jesus opklim. 36 Terwyl Hy aanry, het hulle van hulle klere op die pad oopgegooi. 37 Toe Hy naby die stad kom, teen die afdraand van die Olyfberg, het die hele skare juigende volgelinge God uit volle bors begin prys oor al die wonderwerke wat hulle gesien het. 38 Hulle het gesing: "Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!" 39 'n Paar Fariseërs uit die skare sê toe vir Jesus: "Meneer, maak stil u volgelinge!" 40 Maar Hy antwoord: "Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep." 41 Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil 42 en gesê: "As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor. 43 Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. 44 En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie. 45 Jesus het na die tempel toe gegaan en die handelaars begin uitjaag. 46 Hy het vir hulle gesê: "Daar staan geskrywe: 'My huis sal 'n huis van gebed wees,' 47 Hy was elke dag in die tempel besig om die mense te leer. Intussen het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en ook die leiers van die volk, 'n plan gesoek om Hom dood te maak. 48 Hulle kon egter niks vind wat uitvoerbaar was nie, omdat die hele volk gretig na Hom geluister het.

Wednesday 17 June 2009

Die Evangelie van Lukas - Hoofstuk 18

Jesus het vir hulle 'n gelykenis vertel om duidelik te maak dat 'n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.
2

Hy het gesê: "In 'n sekere stad was daar 'n regter wat geen eerbied vir God of agting vir 'n mens gehad het nie.
3

En in dieselfde stad het 'n weduwee gewoon wat hom herhaaldelik kom vra het: 'Doen aan my reg in my saak teen my teenparty.'
4

'n Tyd lank wou hy nie, maar later het hy vir homself gesê: Vir God het ek wel geen eerbied nie, en aan 'n mens steur ek my nie,
5

maar aangesien hierdie weduwee so aanhou om my lastig te val, sal ek haar in haar regsaak help, anders kom klap sy my op die ou end ook nog."
6

Toe sê die Here: "Hoor wat sê die onregverdige regter.
7

Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag?
8

Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook! "Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?"
9

Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel:
10

"Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was 'n Fariseër en die ander een 'n tollenaar.
11

Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: 'O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie.
12

Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste.'
13

"Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: 'O God, wees my, sondaar, genadig.'
14

"Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word."
15

Die mense het ook kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense daaroor geraas.
16

Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: "Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.
17

Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie."
18

'n Man van aansien het aan Jesus die vraag gestel: "Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?"
19

Jesus het geantwoord: "Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen.
20

Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis gee nie, eer jou vader en moeder."
21

Maar die man antwoord: "Al hierdie dinge het ek van my kinderdae af onderhou."
22

Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hom: "Een ding kom jy nog kort: gaan verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My."
23

Toe die man dit hoor, was hy diep teleurgesteld, want hy was baie ryk.
24

Toe Jesus sien dat hy teleurgesteld is, sê Hy: "Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom.
25

Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom."
26

Dié wat dit gehoor het, sê toe: "Maar wie kan dan gered word?"
27

Daarop antwoord Hy: "Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik."
28

Toe sê Petrus: "Kyk, óns het van ons besittings afgesien en U gevolg."
29

En Jesus antwoord: "Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van die koninkryk van God afgesien het van huis of vrou of broers of ouers of kinders nie,
30

of hy ontvang in hierdie tyd al baiekeer soveel terug, en in die tyd wat kom, die ewige lewe."
31

Jesus het die twaalf opsy geneem en vir hulle gesê: "Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe, en alles wat die profete oor die Seun van die mens geskryf het, sal daar bewaarheid word.
32

Hy sal uitgelewer word aan die heidene; Hy sal bespot en beledig word; hulle sal op Hom spoeg,
33

Hom gesel en Hom daarna doodmaak. En op die derde dag sal Hy uit die dood opstaan."
34

Maar van hierdie dinge het hulle niks begryp nie. Die woorde was vir hulle duister, en hulle het nie verstaan waaroor Hy praat nie.
35

Jesus het naby Jerigo gekom. Toe 'n blinde man wat daar langs die pad sit en bedel,
36

die groot menigte mense hoor verbyloop, vra hy wat aan die gang is.
37

Hulle vertel hom toe: "Jesus van Nasaret gaan hier verby."
38

Toe roep hy uit: "Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!"
39

Die mense wat voor geloop het, het hom beveel om stil te bly, maar hy het al hoe harder uitgeroep: "Seun van Dawid, ontferm U oor my!"
40

Jesus gaan toe staan en gee bevel dat hy na Hom toe gebring moet word. Toe hy naby kom, vra Jesus vir hom:
41

"Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?" En hy antwoord: "Here, dat ek kan sien."
42

Jesus sê vir hom: "Goed, jy kan sien! Jou geloof het jou gered."
43

En onmiddellik kon hy sien, en hy het Jesus gevolg en God geprys. Ook al die mense wat dit gesien het, het aan God die eer gegee.

Sunday 24 May 2009

Die Evangelie van Lukas, Hoofstuk 17, gelees deur Andre Walters

1

Jesus het vir sy dissipels gesê: "Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is.
2

So 'n mens kan eerder met 'n groot klip aan die nek in die see gegooi word as dat hy vir een van hierdie kleintjies 'n struikelblok word.
3

Wees dus self op julle hoede. "As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom.
4

Selfs as hy sewe maal op 'n dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou toe terugkom en sê: 'Ek is jammer,' moet jy hom vergewe."
5

Die apostels sê toe vir die Here: "Gee ons meer geloof."
6

Maar die Here antwoord: "As julle maar geloof so groot soos 'n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: 'Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,' en hy sou julle gehoorsaam.
7

"Sê nou een van julle het 'n slaaf wat ploeg of vee oppas. Sal hy vir die slaaf sê as hy van die veld af inkom: 'Kom eet eers gou'?
8

Natuurlik nie! Maar hy sal vir hom sê: 'Maak vir my iets klaar vir aandete. Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink. Daarna kan jy self eet en drink.'
9

'n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe?
10

So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen."
11

Op sy reis na Jerusalem toe het Jesus al met die grens tussen Samaria en Galilea langs gegaan.
12

Net toe Hy 'n sekere dorpie wou binnegaan, kom tien melaatse mans Hom tegemoet, maar hulle bly op 'n afstand staan
13

en roep hard: "Jesus, Here, ontferm U oor ons!"
14

Toe Hy hulle sien, sê Hy: "Gaan wys julle vir die priesters." Op pad daarheen het hulle gesond geword.
15

En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys.
16

Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was 'n Samaritaan.
17

Toe sê Jesus: "Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan?
18

Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers 'n Jood is nie?"
19

En vir hom sê Hy: "Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered."
20

Toe die Fariseërs vir Jesus vra wanneer die koninkryk van God dan kom, het Hy hulle geantwoord: "Die koms van die koninkryk van God kan nie uit voortekens bereken word nie.
21

Hulle sal nie kan sê: 'Kyk, hier is dit!' of: 'Daar is dit!' nie, want die koninkryk van God is hier by julle."
22

Daarna sê Hy vir die dissipels: "Daar sal dae kom wanneer julle daarna sal verlang om net een van die dae van die Seun van die mens te sien, maar julle sal dit nie sien nie. Hulle sal wel vir julle sê: 'Kyk, daar is Hy!' of: 'Kyk, hier is Hy!'
23

Maar moenie gaan nie en moenie agter hulle aanloop nie!
24

Soos die weerlig wat uitslaan, die hele lugruim van die een kant na die ander verlig, so sal die Seun van die mens kom as die dag van sy koms daar is.
25

Maar eers moet Hy baie ly en deur die mense van hierdie tyd verwerp word.
26

"Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens:
27

hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Toe kom die sondvloed, en dit het hulle almal uitgewis.
28

In die tyd van Lot het dit ook net so gegaan: hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink, gekoop en verkoop, geplant en gebou.
29

Maar op die dag toe Lot Sodom verlaat het, het vuur en swael uit die hemel gereën, en dit het almal uitgewis.
30

Net so sal dit ook gaan op die dag wanneer die Seun van die mens verskyn.
31

"Dan moet die man wat op die dakstoep sit, nie ingaan om sy besittings in die huis te gryp nie. Net so moet ook die man wat op die land is, nie omdraai huis toe nie.
32

Onthou wat met die vrou van Lot gebeur het!
33

Elkeen wat sy lewe probeer behou, sal dit verloor, maar elkeen wat dit verloor, sal dit behou.
34

Ek sê vir julle: Dan sal twee mense op een bed slaap, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.
35

Twee vroue sal koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word."
37

Toe vra hulle Hom: "Waar, Here?" Hy sê vir hulle: "Waar aas lê, daar sal aasvoëls ook bymekaarkom."

Wednesday 25 March 2009

Die Evangelie van Lukas, 16, gelees deur andre walters

Jesus het vir sy dissipels ook gesê: "'n Ryk man het 'n bestuurder in diens gehad, en dié is by hom aangekla omdat hy sy geld verkwis het.
2

Hy ontbied hom toe en sê vir hom: 'Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou bestuur van sake, want jy kan nie langer bestuurder wees nie.'
3

Die bestuurder dink toe by homself: wat moet ek nou doen, want my werkgewer neem die bestuurderskap van my af weg. Vir handearbeid sien ek nie kans nie; en om te bedel, skaam ek my.
4

Maar wag, nou weet ek wat ek sal doen sodat daar mense sal wees wat my in hulle huise sal ontvang as ek uit die bestuurderskap ontslaan is.
5

Toe roep hy die skuldenaars van sy werkgewer een vir een en vra vir die eerste: 'Hoeveel skuld jy my werkgewer?'
6

Hy antwoord: 'Honderd vate olyfolie.' Toe sê hy vir hom: 'Vat jou skuldbewys, gaan sit en skryf gou vyftig.'
7

Daarna vra hy vir 'n ander een: 'En jy, hoeveel skuld jy?' Hy antwoord: 'Honderd sak koring.' En hy sê vir hom: 'Vat jou skuldbewys en skryf tagtig.'
8

"Die werkgewer het die oneerlike bestuurder geprys vir die slim ding wat hy gedoen het. Die mense van hierdie wêreld tree onder mekaar slimmer op as die mense van die lig.
9

"En Ek sê vir julle: Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang.
10

"Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik.
11

As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou?
12

As julle met 'n ander man se goed nie betroubaar is nie, wie sal dan iets aan julle gee om as julle eie te besit?
13

"Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie."
14

Die Fariseërs was baie lief vir geld en toe hulle al hierdie dinge hoor, het hulle Hom beledigend uitgelag.
15

Hy sê toe vir hulle: "Julle is dié wat julle voor die mense as goeie mense voordoen, maar God ken julle harte. Wat deur die mense as belangrik beskou word, is 'n gruwel voor God.
16

"Tot op Johannes was dit net die wet en die profete. Van toe af word die koninkryk van God verkondig, en elkeen probeer so hard as hy kan om daar in te kom.
17

Tog is dit makliker vir die hemel en die aarde om te vergaan as dat een lettertjie van die wet verval.
18

"Elkeen wat van sy vrou skei en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk; en iemand wat met 'n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk."
19

"Daar was 'n ryk man wat duur en deftige klere gedra en elke dag feestelik en weelderig geleef het.
20

(16:20-16:21) En daar was 'n arm man met die naam Lasarus wat by die deur van die ryk man gelê het in die hoop dat hy van die oorskiet van die ryk man se tafel te ete sou kry. Hy was oortrek van die swere en selfs die honde het daaraan kom lek.
22

"Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe.
23

Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in die verte en vir Lasarus langs hom en hy roep:
24

'Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur.'
25

Maar Abraham sê: 'My kind, onthou dat jy in jou leeftyd altyd die goeie gekry het en Lasarus die slegte. Nou gaan dit hier goed met hom, maar jy word gepynig.
26

En buitendien is daar 'n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook nie na ons toe kan oorkom nie.'
27

Toe sê hy: 'Ek smeek u dan, vader, stuur hom tog na my pa se huis toe.
28

Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle dringend gaan waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.'
29

Maar Abraham sê: 'Hulle het die woorde van Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.'
30

Hy antwoord egter: 'Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dood na hulle toe gaan, sal hulle hulle bekeer.'
31

Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan."

Saturday 7 March 2009

Die Evangelie van Lukas, 15, gelees deur andre walters

Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister.
2

Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: "Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle."
3

Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis:
4

"Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry.
5

En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers.
6

As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: 'Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.'
7

Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie."
8

"Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een raak weg, steek nie 'n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?
9

En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: 'Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry.'
10

Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer."
11

Verder het Jesus gesê: "Daar was 'n man wat twee seuns gehad het.
12

Die jongste het vir sy pa gesê: 'Pa, gee my die deel van die besittings wat my toekom.' Hy het toe die goed tussen hulle verdeel.
13

"Nie lank daarna nie het die jongste seun alles tot geld gemaak en van die ouerhuis af na 'n ver land toe vertrek. Daar het hy sy geld verkwis deur losbandig te lewe.
14

Nadat hy alles deurgebring het, het daar 'n kwaai hongersnood in daardie land gekom, en ook hy het begin gebrek ly.
15

Hy het toe sommer by een van die mense van daardie land gaan bly, en dié het hom na sy plaas toe gestuur om varke op te pas.
16

Daar het hy gewens hy kon sy honger stil met die peule wat die varke eet, maar niemand het hom daarvan gegee nie.
17

"Toe kom hy tot inkeer en sê: 'My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger.
18

Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig!
19

Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners.'
20

En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan. "Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom.
21

Toe sê die seun vir hom: 'Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie.'
22

Maar sy pa roep sy werksmense: 'Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom 'n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan!
23

En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier!
24

Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.' Toe het hulle begin feesvier.
25

"Sy oudste seun was nog in die veld. Toe hy terugkom en naby die huis was, hoor hy die musiek en die singery.
26

Hy roep toe een van die bediendes nader en vra hom wat aan die gang is.
27

Die bediende antwoord: 'U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom behoue en gesond teruggekry het.'
28

"Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom;
29

maar hy antwoord: 'Kyk, al die jare werk ek soos 'n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek 'n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers 'n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie.
30

Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!'
31

"Toe sê die pa vir hom: Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune.
32

Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry."

Saturday 28 February 2009

Die Evangelie van Lukas, 14, gelees deur andre walters

Op 'n sabbatdag toe Jesus na die huis van 'n vooraanstaande Fariseër toe gegaan het om daar te eet, het hulle Hom fyn dopgehou.
2

Reg voor Hom was daar 'n man wat aan water gely het.
3

Jesus praat toe met die wetgeleerdes en Fariseërs en vra: "Mag 'n mens iemand op die sabbatdag gesond maak of nie?"
4

Maar hulle het stilgebly. Toe trek Jesus die sieke nader, maak hom gesond en laat hom gaan.
5

Daarna sê Hy vir hulle: "Sê nou 'n seun of 'n bees van een van julle val in 'n put, sal hy hom nie dadelik uithaal nie, al is dit op 'n sabbatdag?"
6

Hulle kon daar niks op antwoord nie.
7

Toe Jesus merk hoe hulle die voorste plekke aan tafel uitsoek, vertel Hy aan die genooides die volgende gelykenis:
8

"As iemand jou na 'n bruilof toe uitnooi, moet jy nie sommer op die voorste plek gaan sit nie. Dit kan net wees dat die gasheer iemand uitgenooi het wat belangriker is as jy.
9

Dan sal hy wat julle albei uitgenooi het, na jou toe kom en sê: 'Gee bietjie die plek af vir hierdie man.' Jy sal dan tot jou skande die agterste plek moet gaan inneem.
10

Maar as jy uitgenooi is, gaan sit liewer op die agterste plek. Wanneer die gasheer kom, sal hy vir jou kan sê: 'Vriend, kom sit hier voor.' Dan sal jy in die agting van al die gaste styg.
11

Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word."
12

Hy het ook vir die gasheer gesê: "As jy in die middag of in die aand 'n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie.
13

Nee, as jy 'n feesmaal gee, nooi dan die armes, kreupeles, verlamdes en blindes.
14

Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het."
15

Een van dié wat saam aan tafel was, het dit gehoor en vir Hom gesê: "Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem."
16

Toe sê Jesus vir hom: "Daar was 'n man wat 'n groot maaltyd gegee het en baie mense uitgenooi het.
17

Toe die maaltyd gereed was, stuur hy sy slaaf om vir die genooides te sê: 'Kom, die maaltyd staan klaar.'
18

Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak. Die eerste sê vir hom: 'Ek het 'n stuk grond gekoop en dit is noodsaaklik dat ek uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my asseblief.'
19

'n Ander een sê: 'Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u verskoon my asseblief.'
20

Nog 'n ander een sê: 'Ek is pas getroud, daarom kan ek nie kom nie.'
2 1

"Die slaaf kom toe terug en vertel dit alles aan sy eienaar. Toe word die man kwaad en sê vir sy slaaf: 'Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen.'
22

Later kom die slaaf sê: 'Meneer, u opdrag is uitgevoer, en daar is nog plek.'
23

Toe sê die man vir die slaaf: 'Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word.
24

Dit verseker ek julle: Nie een van die mense wat genooi is, sal sy mond aan my kos sit nie.' "
25

'n Groot menigte het saam met Jesus gereis Hy draai toe om en sê vir hulle:
26

"As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe.
27

Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie.
28

"Wie van julle wat 'n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie?
29

Anders, as hy die fondament gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom die spot begin dryf.
30

Hulle sal sê: 'Hier is 'n man wat begin bou het maar nie kon klaar maak nie.'
31

"Of watter koning wat met 'n ander koning in 'n oorlog betrokke raak, sal nie eers gaan sit en oorweeg of hy met sy tien duisend man sterk genoeg is om die ander een teen te staan wat met twintig duisend teen hom optrek nie?
32

Anders stuur hy 'n afvaardiging om vredesvoorwaardes te vra terwyl die ander een nog ver is.
33

"So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie."
34

"Sout is 'n goeie ding. Maar as sout verslaan het, waarmee sal dit weer sout gemaak word?
35

Dit is nie eers bruikbaar vir die grond of vir die mishoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg. Wie ore het om te hoor, moet luister!"

Tuesday 17 February 2009

Die Evangelie van Lukas, 13, gelees deur andre walters

Juis in daardie tyd het mense vir Jesus kom vertel van die Galileërs vir wie Pilatus laat doodmaak het waar hulle besig was om hulle offerdiere te slag.
2

Toe antwoord Jesus hulle: "Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die ander Galileërs omdat dit met hulle gebeur het?
3

Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom!
4

Of daardie agtien wat dood is toe die toring van Siloam op hulle ineengestort het, dink julle dat hulle skuldiger was as al die ander inwoners van Jerusalem?
5

Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom."
6

Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: "'n Man het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie,
7

sê hy vir die tuinier: 'Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?'
8

Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes.
9

Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap."
10

Eenkeer op 'n sabbatdag was Jesus in een van die sinagoges besig om die mense te leer.
11

Daar was ook 'n vrou wat al agtien jaar lank gely het onder 'n bose gees wat haar heeltemal verswak het. Sy was krom getrek en kon glad nie meer regop kom nie.
12

Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê vir haar: "Mevrou, jy is van jou gebrek verlos!"
13

Toe het Hy haar die hande opgelê, en sy het onmiddellik regop gestaan en God begin prys.
14

Die hoof van die sinagoge was verontwaardig omdat Jesus op die sabbatdag iemand gesond gemaak het. Hy sê toe vir die mense: "Daar is ses dae in die week waarop 'n mens moet werk. Julle moet op een van daardie dae kom om julle te laat gesond maak, nie op die sabbatdag nie."
15

Toe sê die Here vir hom: "Julle huigelaars! Maak elkeen van julle nie op die sabbat sy bees of sy donkie van die krip los en lei hom weg om hom te laat suip nie?
16

En hier is 'n vrou, 'n kind van Abraham, wat werklik al agtien jaar lank deur die Satan gebind is. Mag sy dan nie op die sabbatdag van hierdie band losgemaak word nie?"
17

Deur dit te sê, het Jesus al sy teenstanders laat skaam kry, maar die hele skare was bly oor al die wonderbaarlike dinge wat Hy gedoen het.
18

Jesus het gesê: "Hoe is die koninkryk van God? Waarmee kan Ek dit vergelyk?
19

Dit is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy tuin geplant het. Dit het gegroei en 'n boom geword, en die voëls het in sy takke kom nes maak."
20

Verder het Hy gesê: "Waarmee kan Ek die koninkryk van God vergelyk?
21

Dit is soos suurdeeg wat 'n vrou geneem en in twintig kilogram meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was."
22

Terwyl Jesus op pad was Jerusalem toe, het Hy deur stede en dorpe gegaan en oral die mense geleer.
23

Toe vra iemand Hom: "Here, is dié wat gered word, maar min?"
24

Hy sê vir hulle: "Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.
25

"As die eienaar van die huis eers opgestaan en die deur toegesluit het, sal julle buite staan en aan die deur begin klop en roep: 'Here, maak vir ons oop!' Maar Hy sal julle antwoord: 'Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.'
26

Dan sal julle sê: 'Ons het saam met U geëet en gedrink, en op ons strate het U die mense geleer.'
27

Maar Hy sal weer vir julle sê: 'Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Niemand van julle het gedoen wat reg is nie. Maak dat julle van My af wegkom!'
28

"Daar sal julle huil en op julle tande kners wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete binne-in die koninkryk van God sal sien, terwyl julle self buitentoe weggejaag word.
29

"Daar sal mense uit die ooste en die weste kom, uit die noorde en die suide, en aansit by die feesmaal in die koninkryk van God.
30

Onthou net: Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees."
31

Op daardie selfde oomblik het 'n aantal Fariseërs vir Jesus kom sê: "U moet padgee en na 'n ander plek toe gaan, want Herodes wil u doodmaak."
32

Maar Hy sê vir hulle: "Gaan sê vir daardie jakkals: 'Kyk, vandag en môre dryf Ek nog bose geeste uit en maak Ek mense gesond, maar op die derde dag sal Ek my werk klaar maak.'
33

In elk geval moet Ek vandag en môre en oormôre die reis voortsit, want dit is ondenkbaar dat 'n profeet op 'n ander plek as Jerusalem omkom.
34

"Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!
35

Kyk, nou word julle stad aan julleself oorgelaat. Maar Ek sê vir julle: Julle sal My sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!

Thursday 29 January 2009

Die Evangelie van Lukas, 12, gelees deur andre walters

Die mense het intussen by die duisende saamgedrom en mekaar vertrap. Toe het Jesus begin praat en Hom in die eerste plek tot sy dissipels gerig: "Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is hulle huigelary.

2 Daar is niks bedek wat nie onthul sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie.

3 Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die daglig gehoor word; en wat julle agter geslote deure vir iemand in die oor gefluister het, sal van die dakke af uitgebasuin word."

4 "Aan julle, my vriende, sê Ek: Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie.

5 Ek sal vir julle sê vir wie julle bang moet wees: vir Hom wat mag het om, ná die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees.

6 "Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie.

7 Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies."

8 "Ek sê vir julle: Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook openlik uitspreek voor die engele van God.

9 Maar hy wat My voor die mense verloën, sal voor die engele van God verloën word.

10 "Elkeen wat teen die Seun van die mens iets sê, kan vergewe word; maar hy wat teen die Heilige Gees laster, kan nie vergewe word nie.

11 "Wanneer hulle julle voor sinagoges en owerhede en gesagvoerders bring, moet julle julle nie bekommer oor hoe of waarmee julle julle gaan verdedig of wat julle gaan sê nie,

12 want die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik leer wat gesê moet word."

13 Iemand uit die menigte sê toe vir Jesus: "Meneer, sê vir my broer hy moet die erfenis met my deel."

14 Maar Hy antwoord hom: "Man, wie het My as regter of deler vir julle aangestel?"

15 Toe sê Hy vir hulle: "Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie."

16 Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: "'n Ryk man se grond het goed gedra.

17 Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie.

18 Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar.

19 Dan sal ek vir myself sê: 'Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.'

20 Maar God het vir hom gesê: 'Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?'

21 So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie."

22 Verder het Jesus vir sy dissipels gesê: "Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie.

23 Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere.

24 Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls.

25 Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng?

26 As julle nie eens so 'n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge?

27 "Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie.

28 As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges!

29 Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie.

30 Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het 'n Vader wat weet dat julle dit nodig het.

31 Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee.

32 "Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.

33 "Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle 'n beurs aan wat nie leeg raak nie, 'n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie.

34 Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees."

35 "Wees gereed, die heupe omgord en die lampe aan die brand!

36 Julle moet wees soos mense wat vir hulle eienaar wag tot hy van die bruilof af terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop.

37 Gelukkig is die slawe vir wie die eienaar by sy koms wakker sal aantref. Dit verseker Ek julle: Hy sal hulle aan tafel laat sit, self 'n voorskoot aansit en hulle kom bedien.

38 Gelukkig is die slawe wat hy wakker aantref, selfs al sou hy eers om middernag of met hanekraai kom.

39 Maar dit moet julle weet: as die huiseienaar geweet het hoe laat die dief kom, sou hy hom nie in sy huis laat inbreek het nie.

40 Ook julle moet gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n tyd wanneer julle Hom nie verwag nie."

41 Toe vra Petrus: "Here, is hierdie gelykenis net vir ons bedoel of vir almal?"

42 En die Here antwoord: "Wie is eintlik die getroue en verstandige bestuurder vir wie die eienaar oor sy ander slawe sal aanstel om hulle op tyd hulle kos te gee?

43 Dit is die man vir wie sy eienaar, by sy tuiskoms, so aan die werk sal kry. Gelukkig is hy!

44 Ek sê vir julle die waarheid: Sy eienaar sal hom aanstel oor alles wat hy besit.

45 "Maar as die slaaf by homself sê: 'My eienaar draai lank om te kom,' en hy die slawe, mans en vroue, begin slaan, terwyl hy self eet en drink en dronk word,

46 sal die eienaar van die slaaf kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur wat hy nie vooraf weet nie. Dan sal sy eienaar hom laat doodmaak, en hom die lot van ontroues laat deel.

47 "Die slaaf wat geweet het wat sy eienaar wil hê maar wat nie gereed gemaak of volgens die wil van sy eienaar gehandel het nie, sal 'n swaar straf kry.

48 Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat straf verdien, sal 'n ligte straf kry. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word."

49 "Ek het gekom om vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand is!

50 "Maar daar is 'n doop waarmee Ek gedoop moet word, en dit sal My heeltemal in beslag neem tot dit afgehandel is!

51 Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid,

52 want van nou af sal daar vyf mense in een huis onderling verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie.

53 Hulle sal verdeeld wees: vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter en dogter teen moeder, skoonmoeder teen skoondogter en skoondogter teen skoonmoeder."

54 Jesus het ook vir die skare gesê: "As julle 'n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: 'Dit gaan reën!' en dit gebeur ook.

55 En as die suidewind waai, sê julle: 'Dit gaan warm word!' en dit word warm.

56 Huigelaars! Julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te beoordeel. Hoe is dit dan dat julle nie weet hoe om hierdie tyd te beoordeel nie?"

57 "Waarom maak julle nie vir julleself uit wat die regte ding is om te doen nie?

58 "Terwyl jy saam met jou teenstander op pad is hof toe, moet jy moeite doen om die saak met hom te skik, sodat hy jou nie voor die regter sleep en die regter jou aan die polisie oorgee en die polisie jou in die tronk sit nie.

59 Ek verseker jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie."