Monday 21 December 2009

Die Evangelie van Lukas - Hoofstuk 23, gelees deur andre

1

Daarna het die hele vergadering opgestaan en Jesus na Pilatus toe gebring.
2

Daar het hulle die aanklag teen Hom begin deur te sê: "Ons het bevind dat hierdie man ons volk ophits: hy belet hulle om aan die keiser belasting te betaal en beweer dat hy die Christus, die koning, is."
3

Pilatus vra Hom toe: "Is jy die koning van die Jode?" Hy antwoord hom: "Dit is soos u sê."
4

Daarop sê Pilatus vir die priesterhoofde en die skare: "Ek vind geen skuld in hierdie man nie."
5

Maar hulle het sterker aangedring en gesê: "Die hele Joodse land deur stook hy die volk op met sy leer. Hy het van Galilea af begin en tot hier daarmee gekom."
6

Toe Pilatus dit hoor, vra hy of die man dan 'n Galileër is.
7

Nadat hy te wete gekom het dat Jesus uit die magsgebied van Herodes afkomstig was, het hy Hom na Herodes toe gestuur, wat juis in daardie tyd self in Jerusalem was.
8

Herodes was baie bly om Jesus te sien. Omdat hy soveel van Hom gehoor het, het hy al 'n geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen.
9

Hy het allerlei vrae aan Hom gestel, maar Jesus het hom niks geantwoord nie.
10

Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het Hom heftig gestaan en beskuldig.
11

Herodes en sy soldate het Hom toe met veragting behandel. Hy het Hom 'n deftige kleed laat omhang, met Hom die spot gedryf en Hom daarna na Pilatus toe teruggestuur.
12

Op daardie dag het Herodes en Pilatus vriende geword. Voorheen was daar kwaaivriendskap tussen hulle.
13

Daarna het Pilatus die priesterhoofde, die lede van die Joodse Raad en die volk bymekaar geroep
14

en vir hulle gesê: "Julle het hierdie man voor my gebring as 'n opruier van die volk. Nou het ek in julle teenwoordigheid die saak ondersoek, en ek het in hierdie man geen grond gevind vir die aanklag wat julle teen hom inbring nie.
15

Herodes het ook nie, want hy het hom na ons toe teruggestuur. Hy het beslis niks gedoen wat die dood verdien nie.
16

Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat."
18

Maar soos een man het hulle geskreeu: "Weg met hom!
19

Laat Barabbas vir ons los!" Barabbas was in die tronk oor 'n opstand in die stad en oor moord.
20

Omdat Pilatus vir Jesus wou loslaat, het hy weer met hulle gepraat,
21

maar hulle het aanhoudend uitgeroep: "Kruisig, kruisig hom!"
22

Die derde keer sê Pilatus vir hulle: "Watter kwaad het die man gedoen? Ek het in hom niks gekry wat die doodstraf regverdig nie. Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat."
23

Hulle het egter met 'n harde geskreeu aangehou om te eis dat Jesus gekruisig moes word, en met hulle geskreeu het hulle die oorhand gekry.
24

Pilatus het toe besluit dat aan hulle eis voldoen moes word.
25

Die man wat oor opstand en moord in die tronk was, het hy vrygelaat, soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy uitgelewer, soos hulle wou hê.
26

Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle 'n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.
27

'n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het.
28

Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: "Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders,
29

want daar kom dae waarin hulle sal sê: 'Hoe gelukkig is die onvrugbare vroue en dié wat nooit 'n kind in die wêreld gebring het of gevoed het nie.'
30

"Dan sal hulle vir die berge sê: 'Val op ons!' en vir die heuwels: 'Bedek ons!'
31

As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?"
32

Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word.
33

Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant.
34

Toe sê Jesus: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!" Hulle het sy klere verdeel deur te loot.
35

Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: "Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is."
36

Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied
37

en gesê: "As jy die koning van die Jode is, red jouself."
38

Daar was ook 'n opskrif bokant Hom: "Dit is die koning van die Jode."
39

Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: "Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!"
40

Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: "Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man!
41

In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie."
42

Verder sê hy: "Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom."
43

Jesus antwoord hom: "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees."
44

Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur;
45

die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur.
46

Jesus het hard uitgeroep: "Vader, in u hande gee Ek my gees oor." Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.
47

Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: "Hierdie man was werklik onskuldig."
48

Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan.
49

Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op 'n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien.
50

Daar was 'n man met die naam Josef, afkomstig van 'n Joodse dorpie Arimatea. Hy was 'n goeie en opregte man en het die koms van die koninkryk van God verwag.
51

Hoewel hy lid van die Joodse Raad was, het hy nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie.

52
Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra.

53
Nadat hy dit van die kruis afgehaal het, het hy dit in linne toegedraai en in 'n rotsgraf neergelê waarin nog nooit tevore iemand begrawe was nie.
54

Dit was Vrydag, en die sabbat het al begin aanbreek.
55

Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het saamgeloop en die graf gesien en gekyk hoe sy liggaam neergelê word.
56

Daarna het hulle huis toe gegaan en reukolie en salf reggemaak. Op die sabbatdag het hulle gerus, soos die gebod bepaal.

No comments: