Tuesday 17 February 2009

Die Evangelie van Lukas, 13, gelees deur andre walters

Juis in daardie tyd het mense vir Jesus kom vertel van die Galileërs vir wie Pilatus laat doodmaak het waar hulle besig was om hulle offerdiere te slag.
2

Toe antwoord Jesus hulle: "Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die ander Galileërs omdat dit met hulle gebeur het?
3

Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom!
4

Of daardie agtien wat dood is toe die toring van Siloam op hulle ineengestort het, dink julle dat hulle skuldiger was as al die ander inwoners van Jerusalem?
5

Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom."
6

Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: "'n Man het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie,
7

sê hy vir die tuinier: 'Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?'
8

Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes.
9

Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap."
10

Eenkeer op 'n sabbatdag was Jesus in een van die sinagoges besig om die mense te leer.
11

Daar was ook 'n vrou wat al agtien jaar lank gely het onder 'n bose gees wat haar heeltemal verswak het. Sy was krom getrek en kon glad nie meer regop kom nie.
12

Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê vir haar: "Mevrou, jy is van jou gebrek verlos!"
13

Toe het Hy haar die hande opgelê, en sy het onmiddellik regop gestaan en God begin prys.
14

Die hoof van die sinagoge was verontwaardig omdat Jesus op die sabbatdag iemand gesond gemaak het. Hy sê toe vir die mense: "Daar is ses dae in die week waarop 'n mens moet werk. Julle moet op een van daardie dae kom om julle te laat gesond maak, nie op die sabbatdag nie."
15

Toe sê die Here vir hom: "Julle huigelaars! Maak elkeen van julle nie op die sabbat sy bees of sy donkie van die krip los en lei hom weg om hom te laat suip nie?
16

En hier is 'n vrou, 'n kind van Abraham, wat werklik al agtien jaar lank deur die Satan gebind is. Mag sy dan nie op die sabbatdag van hierdie band losgemaak word nie?"
17

Deur dit te sê, het Jesus al sy teenstanders laat skaam kry, maar die hele skare was bly oor al die wonderbaarlike dinge wat Hy gedoen het.
18

Jesus het gesê: "Hoe is die koninkryk van God? Waarmee kan Ek dit vergelyk?
19

Dit is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy tuin geplant het. Dit het gegroei en 'n boom geword, en die voëls het in sy takke kom nes maak."
20

Verder het Hy gesê: "Waarmee kan Ek die koninkryk van God vergelyk?
21

Dit is soos suurdeeg wat 'n vrou geneem en in twintig kilogram meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was."
22

Terwyl Jesus op pad was Jerusalem toe, het Hy deur stede en dorpe gegaan en oral die mense geleer.
23

Toe vra iemand Hom: "Here, is dié wat gered word, maar min?"
24

Hy sê vir hulle: "Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.
25

"As die eienaar van die huis eers opgestaan en die deur toegesluit het, sal julle buite staan en aan die deur begin klop en roep: 'Here, maak vir ons oop!' Maar Hy sal julle antwoord: 'Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.'
26

Dan sal julle sê: 'Ons het saam met U geëet en gedrink, en op ons strate het U die mense geleer.'
27

Maar Hy sal weer vir julle sê: 'Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Niemand van julle het gedoen wat reg is nie. Maak dat julle van My af wegkom!'
28

"Daar sal julle huil en op julle tande kners wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete binne-in die koninkryk van God sal sien, terwyl julle self buitentoe weggejaag word.
29

"Daar sal mense uit die ooste en die weste kom, uit die noorde en die suide, en aansit by die feesmaal in die koninkryk van God.
30

Onthou net: Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees."
31

Op daardie selfde oomblik het 'n aantal Fariseërs vir Jesus kom sê: "U moet padgee en na 'n ander plek toe gaan, want Herodes wil u doodmaak."
32

Maar Hy sê vir hulle: "Gaan sê vir daardie jakkals: 'Kyk, vandag en môre dryf Ek nog bose geeste uit en maak Ek mense gesond, maar op die derde dag sal Ek my werk klaar maak.'
33

In elk geval moet Ek vandag en môre en oormôre die reis voortsit, want dit is ondenkbaar dat 'n profeet op 'n ander plek as Jerusalem omkom.
34

"Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!
35

Kyk, nou word julle stad aan julleself oorgelaat. Maar Ek sê vir julle: Julle sal My sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!

No comments: