Saturday 28 February 2009

Die Evangelie van Lukas, 14, gelees deur andre walters

Op 'n sabbatdag toe Jesus na die huis van 'n vooraanstaande Fariseër toe gegaan het om daar te eet, het hulle Hom fyn dopgehou.
2

Reg voor Hom was daar 'n man wat aan water gely het.
3

Jesus praat toe met die wetgeleerdes en Fariseërs en vra: "Mag 'n mens iemand op die sabbatdag gesond maak of nie?"
4

Maar hulle het stilgebly. Toe trek Jesus die sieke nader, maak hom gesond en laat hom gaan.
5

Daarna sê Hy vir hulle: "Sê nou 'n seun of 'n bees van een van julle val in 'n put, sal hy hom nie dadelik uithaal nie, al is dit op 'n sabbatdag?"
6

Hulle kon daar niks op antwoord nie.
7

Toe Jesus merk hoe hulle die voorste plekke aan tafel uitsoek, vertel Hy aan die genooides die volgende gelykenis:
8

"As iemand jou na 'n bruilof toe uitnooi, moet jy nie sommer op die voorste plek gaan sit nie. Dit kan net wees dat die gasheer iemand uitgenooi het wat belangriker is as jy.
9

Dan sal hy wat julle albei uitgenooi het, na jou toe kom en sê: 'Gee bietjie die plek af vir hierdie man.' Jy sal dan tot jou skande die agterste plek moet gaan inneem.
10

Maar as jy uitgenooi is, gaan sit liewer op die agterste plek. Wanneer die gasheer kom, sal hy vir jou kan sê: 'Vriend, kom sit hier voor.' Dan sal jy in die agting van al die gaste styg.
11

Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word."
12

Hy het ook vir die gasheer gesê: "As jy in die middag of in die aand 'n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie.
13

Nee, as jy 'n feesmaal gee, nooi dan die armes, kreupeles, verlamdes en blindes.
14

Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het."
15

Een van dié wat saam aan tafel was, het dit gehoor en vir Hom gesê: "Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem."
16

Toe sê Jesus vir hom: "Daar was 'n man wat 'n groot maaltyd gegee het en baie mense uitgenooi het.
17

Toe die maaltyd gereed was, stuur hy sy slaaf om vir die genooides te sê: 'Kom, die maaltyd staan klaar.'
18

Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak. Die eerste sê vir hom: 'Ek het 'n stuk grond gekoop en dit is noodsaaklik dat ek uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my asseblief.'
19

'n Ander een sê: 'Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u verskoon my asseblief.'
20

Nog 'n ander een sê: 'Ek is pas getroud, daarom kan ek nie kom nie.'
2 1

"Die slaaf kom toe terug en vertel dit alles aan sy eienaar. Toe word die man kwaad en sê vir sy slaaf: 'Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen.'
22

Later kom die slaaf sê: 'Meneer, u opdrag is uitgevoer, en daar is nog plek.'
23

Toe sê die man vir die slaaf: 'Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word.
24

Dit verseker ek julle: Nie een van die mense wat genooi is, sal sy mond aan my kos sit nie.' "
25

'n Groot menigte het saam met Jesus gereis Hy draai toe om en sê vir hulle:
26

"As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe.
27

Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie.
28

"Wie van julle wat 'n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie?
29

Anders, as hy die fondament gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom die spot begin dryf.
30

Hulle sal sê: 'Hier is 'n man wat begin bou het maar nie kon klaar maak nie.'
31

"Of watter koning wat met 'n ander koning in 'n oorlog betrokke raak, sal nie eers gaan sit en oorweeg of hy met sy tien duisend man sterk genoeg is om die ander een teen te staan wat met twintig duisend teen hom optrek nie?
32

Anders stuur hy 'n afvaardiging om vredesvoorwaardes te vra terwyl die ander een nog ver is.
33

"So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie."
34

"Sout is 'n goeie ding. Maar as sout verslaan het, waarmee sal dit weer sout gemaak word?
35

Dit is nie eers bruikbaar vir die grond of vir die mishoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg. Wie ore het om te hoor, moet luister!"

No comments: