Monday 21 December 2009

Die Evangelie van Lukas - Hoofstuk 24, gelees deur andre


1
Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het.

2
Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af;

3
en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie.

4
Hulle het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Meteens staan daar by hulle twee manne met blink klere aan.

5
Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: "Waarom soek julle die Lewende by die dooies?

6
Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was

7
en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan."

8
Toe het hulle sy woorde onthou

9
en van die graf af teruggegaan en al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel.

10
Die vroue was Maria Magdalena en Johanna en Maria die ma van Jakobus. Ook die ander vroue saam met hulle het dieselfde dinge aan die apostels vertel.

11
Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie.

12
Petrus het egter opgespring en na die graf toe gehardloop. Toe hy daar vooroor buk, sien hy net die doeke. Vol verwondering oor wat gebeur het, is hy terug huis toe.

13
Op dieselfde dag was twee van hulle op pad na 'n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af.

14
Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het.

15
Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop,

16
maar hulle oë is verhinder om Hom te herken.

17
Hy vra hulle toe: "Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?" Met somber gesigte gaan hulle staan,

18
en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: "Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?"

19
Hy vra vir hulle toe: "Watter dinge?" Hulle antwoord Hom: "Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, 'n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk;

20
en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het.

21
Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het.

22
En nou het 'n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf

23
en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle 'n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe.

24
Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie."

25
Toe sê Hy vir hulle: "Wat 'n gebrek aan begrip en wat 'n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie?

26
Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?"

27
Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.

28
Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan.

29
Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: "Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby." Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly.

30
Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle.

31
Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn.

32
Hulle sê toe vir mekaar: "Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?"

33
Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar,

34
en dié sê: "Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!"

35
Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het, en hoe Hy aan hulle bekend geword het toe Hy die brood gebreek het.

36
Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: "Vrede vir julle!"

37
Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien 'n gees.

38
Hy sê toe vir hulle: "Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte?

39
Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! 'n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie."

40
Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.

41
Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie, sê Hy vir hulle: "Het julle hier iets om te eet?"

42
Hulle gee Hom toe 'n stuk gebakte vis.

43
Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet.

44
Daarna sê Hy vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is."

45
Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.

46
Verder sê Hy vir hulle: "So staan daar geskrywe: 'Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan,

47
en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.'

48
Julle is getuies van hierdie dinge.

49
En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is."

50
Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën.

51
Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.

52
Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan.

53
Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.

Die Evangelie van Lukas - Hoofstuk 23, gelees deur andre

1

Daarna het die hele vergadering opgestaan en Jesus na Pilatus toe gebring.
2

Daar het hulle die aanklag teen Hom begin deur te sê: "Ons het bevind dat hierdie man ons volk ophits: hy belet hulle om aan die keiser belasting te betaal en beweer dat hy die Christus, die koning, is."
3

Pilatus vra Hom toe: "Is jy die koning van die Jode?" Hy antwoord hom: "Dit is soos u sê."
4

Daarop sê Pilatus vir die priesterhoofde en die skare: "Ek vind geen skuld in hierdie man nie."
5

Maar hulle het sterker aangedring en gesê: "Die hele Joodse land deur stook hy die volk op met sy leer. Hy het van Galilea af begin en tot hier daarmee gekom."
6

Toe Pilatus dit hoor, vra hy of die man dan 'n Galileër is.
7

Nadat hy te wete gekom het dat Jesus uit die magsgebied van Herodes afkomstig was, het hy Hom na Herodes toe gestuur, wat juis in daardie tyd self in Jerusalem was.
8

Herodes was baie bly om Jesus te sien. Omdat hy soveel van Hom gehoor het, het hy al 'n geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen.
9

Hy het allerlei vrae aan Hom gestel, maar Jesus het hom niks geantwoord nie.
10

Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het Hom heftig gestaan en beskuldig.
11

Herodes en sy soldate het Hom toe met veragting behandel. Hy het Hom 'n deftige kleed laat omhang, met Hom die spot gedryf en Hom daarna na Pilatus toe teruggestuur.
12

Op daardie dag het Herodes en Pilatus vriende geword. Voorheen was daar kwaaivriendskap tussen hulle.
13

Daarna het Pilatus die priesterhoofde, die lede van die Joodse Raad en die volk bymekaar geroep
14

en vir hulle gesê: "Julle het hierdie man voor my gebring as 'n opruier van die volk. Nou het ek in julle teenwoordigheid die saak ondersoek, en ek het in hierdie man geen grond gevind vir die aanklag wat julle teen hom inbring nie.
15

Herodes het ook nie, want hy het hom na ons toe teruggestuur. Hy het beslis niks gedoen wat die dood verdien nie.
16

Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat."
18

Maar soos een man het hulle geskreeu: "Weg met hom!
19

Laat Barabbas vir ons los!" Barabbas was in die tronk oor 'n opstand in die stad en oor moord.
20

Omdat Pilatus vir Jesus wou loslaat, het hy weer met hulle gepraat,
21

maar hulle het aanhoudend uitgeroep: "Kruisig, kruisig hom!"
22

Die derde keer sê Pilatus vir hulle: "Watter kwaad het die man gedoen? Ek het in hom niks gekry wat die doodstraf regverdig nie. Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat."
23

Hulle het egter met 'n harde geskreeu aangehou om te eis dat Jesus gekruisig moes word, en met hulle geskreeu het hulle die oorhand gekry.
24

Pilatus het toe besluit dat aan hulle eis voldoen moes word.
25

Die man wat oor opstand en moord in die tronk was, het hy vrygelaat, soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy uitgelewer, soos hulle wou hê.
26

Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle 'n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.
27

'n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het.
28

Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: "Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders,
29

want daar kom dae waarin hulle sal sê: 'Hoe gelukkig is die onvrugbare vroue en dié wat nooit 'n kind in die wêreld gebring het of gevoed het nie.'
30

"Dan sal hulle vir die berge sê: 'Val op ons!' en vir die heuwels: 'Bedek ons!'
31

As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?"
32

Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word.
33

Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant.
34

Toe sê Jesus: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!" Hulle het sy klere verdeel deur te loot.
35

Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: "Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is."
36

Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied
37

en gesê: "As jy die koning van die Jode is, red jouself."
38

Daar was ook 'n opskrif bokant Hom: "Dit is die koning van die Jode."
39

Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: "Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!"
40

Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: "Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man!
41

In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie."
42

Verder sê hy: "Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom."
43

Jesus antwoord hom: "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees."
44

Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur;
45

die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur.
46

Jesus het hard uitgeroep: "Vader, in u hande gee Ek my gees oor." Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.
47

Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: "Hierdie man was werklik onskuldig."
48

Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan.
49

Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op 'n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien.
50

Daar was 'n man met die naam Josef, afkomstig van 'n Joodse dorpie Arimatea. Hy was 'n goeie en opregte man en het die koms van die koninkryk van God verwag.
51

Hoewel hy lid van die Joodse Raad was, het hy nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie.

52
Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra.

53
Nadat hy dit van die kruis afgehaal het, het hy dit in linne toegedraai en in 'n rotsgraf neergelê waarin nog nooit tevore iemand begrawe was nie.
54

Dit was Vrydag, en die sabbat het al begin aanbreek.
55

Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het saamgeloop en die graf gesien en gekyk hoe sy liggaam neergelê word.
56

Daarna het hulle huis toe gegaan en reukolie en salf reggemaak. Op die sabbatdag het hulle gerus, soos die gebod bepaal.

Die Evangelie van Lukas - Hoofstuk 22, gelees deur andre

1 Die fees van die ongesuurde brood, wat pasga genoem word, was naby. 2 Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes wou Jesus uit die weg ruim, maar omdat hulle bang was vir die volk, het hulle nog gesoek na 'n manier om dit te doen. 3 Die Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is en een van die twaalf was, ingevaar. 4 Hy het toe met die priesterhoofde en die offisiere van die tempelwag gaan praat oor hoe hy Jesus in hulle hande kan laat kom. 5 Hulle was bly en het ooreengekom om hom daarvoor te betaal. 6 Hy het ingestem en na 'n geskikte geleentheid gesoek om Jesus te verraai waar die volk nie by is nie. 7 Die dag van die ongesuurde brood, waarop die paaslam geslag moes word, het aangebreek. 8 Jesus stuur toe vir Petrus en Johannes vooruit met die opdrag: "Gaan berei die paasmaaltyd vir ons voor dat ons dit kan eet." 9 Hulle vra Hom: "Waar wil U hê moet ons dit voorberei?" 10 Toe antwoord Hy hulle: "Kyk, net soos julle die stad ingaan, sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom tot in die huis waar hy ingaan, 11 en sê vir die eienaar van die huis: 'Ons Leermeester vra u: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?' 12 En hy sal julle 'n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle dit voorberei." 13 Hulle het gegaan en dit gekry net soos Jesus vir hulle gesê het, en die paasmaaltyd voorberei. 14 Toe dit tyd was, het Jesus aan tafel gegaan en die apostels saam met Hom. 15 Hy sê toe vir hulle: "Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly. 16 Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie." 17 Daarna neem Hy 'n beker, spreek die dankgebed uit en sê: "Neem dit en gee dit vir mekaar aan. 18 Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink voordat die koninkryk van God gekom het nie." 19 Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: "Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis." 20 Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: "Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word. 21 "Maar kyk, die hand van die man wat My verraai, is saam met Myne hier op die tafel. 22 Met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit voorbeskik is, maar wee die man deur wie Hy verraai word!" 23 Toe begin hulle mekaar uitvra wie van hulle dit kon wees wat so iets sou doen. 24 Daar het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. 25 Maar Jesus sê vir hulle: "By die nasies is dit so: konings speel oor hulle baas, en dié wat gesag afdwing, laat hulleself weldoeners noem. 26 Maar by julle moet dit nie so wees nie. Inteendeel, die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien. 27 Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is, of die een wat bedien? Tog hy wat aan tafel is, nie waar nie? Maar Ek is in julle kring soos die een wat dien. 28 "Julle is die mense wat in my beproewings altyddeur by My gebly het. 29 Net soos my Vader 'n koninkryk aan My bemaak het, so bemaak Ek 'n koninkryk aan julle, 30 sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink en op trone kan sit om oor die twaalf stamme van Israel te regeer." 31 "Simon, Simon!" het Jesus gesê. "Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. 32 Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk." 33 Petrus sê vir Hom: "Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangeneskap en dood in te gaan." 34 Maar Hy antwoord: "Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie." 35 Verder het Jesus vir hulle gesê: "Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie en reissak en skoene, het julle iets kortgekom?" "Nee, niks nie!" was hulle antwoord. 36 Toe sê Hy vir hulle: "Maar nou, wie 'n beursie het, moet dit saamneem, en net so ook 'n reissak. En wie nie 'n swaard het nie, moet van sy klere verkoop en een aanskaf. 37 Ek sê vir julle: Die Skrifwoord wat sê: 'En Hy is as misdadiger beskou,' 38 Hulle sê toe: "Here, kyk hier is twee swaarde." "Ons laat dit daarby," antwoord Hy hulle. 39 Jesus het die stad verlaat en volgens gewoonte Olyfberg toe gegaan, en sy dissipels het Hom gevolg. 40 Toe Hy op die plek aankom, sê Hy vir hulle: "Bid dat julle nie in versoeking kom nie." 41 Hy het Hom toe van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi. Daar het Hy gekniel en gebid: 42 "Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!" 43 'n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. 44 Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val. 45 Toe Hy van die gebed opstaan en by die dissipels kom, kry Hy hulle aan die slaap, uitgeput van droefheid. 46 Hy sê toe vir hulle: "Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie." 47 Terwyl Jesus nog praat, kom 'n klomp mense daar aan. Die een wat Judas genoem is, een van die twaalf, het hulle gelei en nader gekom na Jesus toe om Hom te soen. 48 Maar Jesus sê vir hom: "Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n soen?" 49 Toe dié wat saam met Jesus was, sien wat gaan gebeur, vra hulle: "Here, moet ons hulle met die swaard aanval?" 50 Een van hulle slaan toe na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. 51 Maar Jesus sê: "Hou op daarmee!" Daarna het Hy die oor aangeraak en hom genees. 52 Toe sê Jesus vir die priesterhoofde, die offisiere van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het: "Trek julle met swaarde en stokke uit soos teen 'n rower? 53 Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie 'n hand uitgesteek om My te vang nie. Maar nou dat die tyd vir die duistere magte daar is, het julle julle kans." 54 Hulle het Jesus toe gevange geneem en Hom weggelei en in die huis van die hoëpriester gebring. Petrus het op 'n afstand agterna gekom. 55 In die middel van die binneplaas was daar 'n vuur, en daar het mense bymekaar gesit. Petrus het tussen hulle gaan sit. 56 'n Diensmeisie wat hom in die skynsel van die vuur sien sit het, het hom goed bekyk en gesê: "Dié een was ook saam met daardie man." 57 Maar Petrus het dit ontken deur te sê: "Juffrou, ek ken Hom nie!" 58 'n Rukkie later sien iemand anders hom en sê: "Jy is mos ook een van hulle." Maar Petrus antwoord: "Man, ek is nie!" 59 Na verloop van sowat 'n uur het nog een met beslistheid beweer: "Sowaar, dié een was ook saam met daardie man Hy is mos ook 'n Galileër!" 60 Maar Petrus sê: "Man, ek weet nie waarvan jy praat nie!" En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het daar 'n haan gekraai. 61 Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir hom gesê het: "Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën." 62 En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil. 63 Die manne wat vir Jesus bewaak het, het aangehou om met Hom die spot te dryf en Hom te slaan. 64 Hulle het Hom geblinddoek en gesê: "Jy is mos 'n profeet! Sê wie het jou geslaan!" 65 En nog baie ander godslasterlike dinge het hulle Hom toegesnou. 66 Toe dit dag word, het die Raad van die volk - die priesterhoofde en die skrifgeleerdes - vergader en Jesus voor hulle laat bring. 67 Hulle sê toe: "As jy die Christus is, sê dit vir ons." Maar Hy antwoord hulle: "Al sou Ek dit vir julle sê, sal julle tog nie glo nie; 68 en al sou Ek vir julle 'n vraag stel, sal julle ook nie antwoord nie. 69 Maar van nou af sal die Seun van die mens aan die regterhand van die almagtige God sit." 70 Toe vra hulle almal: "Dan is jy die Seun van God?" Hy sê vir hulle: "Dit is soos julle sê: Ek is!" 71 Daarop sê hulle: "Waarvoor het ons dan nog getuienis nodig? Ons het dit mos uit sy eie mond gehoor!"