Tuesday 28 October 2008

Die Evangelie van Lukas in Afrikaans - Hoofstuk 6


Luk 6:1 En op die tweede eerste sabbat het Hy deur die gesaaides geloop, en sy dissipels het die are gepluk en met hulle hande uitgevrywe en geëet.

Luk 6:2 Toe sê sommige van die Fariseërs vir hulle: Waarom doen julle wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie?

Luk 6:3 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle dan nie gelees wat Dawid gedoen het nie—toe hy honger gehad het, hy en die wat by hom was—

Luk 6:4 hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geneem en geëet het, en ook aan die wat by hom was, gegee het, wat hulle nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen?

Luk 6:5 Toe sê Hy vir hulle: Die Seun van die mens is Here óók van die sabbat.

Luk 6:6 En op ‘n ander sabbat het Hy in die sinagoge gegaan en geleer. En daar was ‘n man, en sy regterhand was uitgedor.

Luk 6:7 En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het Hom in die oog gehou, of Hy op die sabbat gesond maak, sodat hulle ‘n aanklag teen Hom kon vind.

Luk 6:8 Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir die man met die verdorde hand gesê: Staan op hier in hul midde. En hy het opgestaan.

Luk 6:9 Toe sê Jesus vir hulle: Ek sal aan julle ‘n vraag stel: wat is geoorloof op die sabbat—om goed te doen of kwaad te doen; om ‘n lewe te red of óm te bring?

Luk 6:10 En nadat Hy almal rondom aangekyk het, sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit gedoen; en sy hand is herstel, gesond soos die ander een.

Luk 6:11 En hulle is met uitsinnigheid vervul en het met mekaar gepraat wat hulle aan Jesus sou doen.

Luk 6:12 En Hy het in daardie dae uitgegaan na die berg om te bid en die nag in die gebed tot God deurgebring.

Luk 6:13 En toe dit dag geword het, het Hy sy dissipels na Hom geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy apostels genoem het:

Luk 6:14 Simon wat Hy Petrus genoem het, en Andréas, sy broer; Jakobus en Johannes; Filippus en Bartholoméüs;

Luk 6:15 Matthéüs en Thomas; Jakobus, die seun van Alféüs, en Simon wat Yweraar genoem word;

Luk 6:16 Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskáriot, wat die verraaier geword het.

Luk 6:17 En Hy het met hulle afgeklim en op ‘n gelyk plek gaan staan, en daar was ‘n skare van sy dissipels en ‘n groot menigte van die volk van die hele Judéa en Jerusalem en die kusstreek van Tirus en Sidon af,

Luk 6:18 wat gekom het om Hom te hoor en van hulle kwale genees te word; en die wat gekwel was deur onreine geeste, is ook genees.

Luk 6:19 En die hele skare het probeer om Hom aan te raak, omdat krag van Hom uitgegaan het, en Hy het almal gesond gemaak.

Luk 6:20 Toe slaan Hy sy oë op oor sy dissipels en sê: Salig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God.

Luk 6:21 Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag.

Luk 6:22 Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens.

Luk 6:23 Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen.

Luk 6:24 Maar wee julle, rykes, want julle het jul troos weg.

Luk 6:25 Wee julle wat vol is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en ween.

Luk 6:26 Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen.

Luk 6:27 Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat.

Luk 6:28 Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.

Luk 6:29 Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie.

Luk 6:30 Maar gee aan elkeen wat jou iets vra, en eis jou goed nie terug van hom wat dit neem nie.

Luk 6:31 En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.

Luk 6:32 En as julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? Want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet.

Luk 6:33 En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle? Want die sondaars doen ook dieselfde.

Luk 6:34 En as julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank het julle? Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te ontvang.

Luk 6:35 Maar julle moet jul vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes.

Luk 6:36 Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.

Luk 6:37 En julle moet nie oordeel nie, dan sal julle nooit geoordeel word nie. Julle moet nie veroordeel nie, dan sal julle nooit veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.

Luk 6:38 Gee, en aan julle sal gegee word. ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.

Luk 6:39 En Hy het vir hulle ‘n gelykenis uitgespreek: ‘n Blinde kan tog nie ‘n blinde lei nie! Sal hulle nie altwee in die sloot val nie?

Luk 6:40 ‘n Leerling is nie bo sy meester nie; maar elkeen wat volleerd is, sal soos sy meester wees.

Luk 6:41 En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk wat in jou eie oog is, merk jy nie op nie?

Luk 6:42 Of hoe kan jy vir jou broeder sê: Broeder, laat my toe om die splinter wat in jou oog is, uit te haal, terwyl jy self die balk wat in jou oog is, nie sien nie? Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter wat in jou broeder se oog is, uit te haal.

Luk 6:43 Want dit is nie ‘n goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie ‘n slegte boom wat goeie vrugte dra nie.

Luk 6:44 Want elke boom word geken aan sy eie vrugte. Van dorings pluk ‘n mens tog nie vye nie, en ‘n mens sny ook nie druiwe van ‘n doringbos nie.

Luk 6:45 Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond.

Luk 6:46 En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?

Luk 6:47 Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en dit doen Ek sal julle wys soos wie hy is.

Luk 6:48 Hy is soos ‘n man wat ‘n huis bou, wat gegrawe en diep ingegaan en die fondament op die rots gelê het; en toe die vloedwater kom en die stroom teen daardie huis losbreek, kon hy dit nie beweeg nie, omdat sy fondament op die rots was.

Luk 6:49 Maar wie dit hoor en dit nie doen nie, is soos ‘n man wat ‘n huis sonder fondament op die grond bou, en die stroom het daarteen losgebreek en dit het dadelik geval, en die instorting van daardie huis was groot.

Sunday 26 October 2008

Die Evangelie van Lukas in Afrikaans - Hoofstuk 5

Luk 5:1 En toe die skare by Hom aandring om die woord van God te hoor, gaan Hy by die meer Gennésaret staan

Luk 5:2 en sien twee skuite aan die kant van die meer lê; maar die vissers het van hulle af weggegaan en was besig om die nette uit te spoel.

Luk 5:3 Toe klim Hy in een van die skuite wat aan Simon behoort het, en vra hom om ‘n entjie van die land af weg te vaar, en Hy het gaan sit en die skare van die skuit uit geleer.

Luk 5:4 En toe Hy ophou met spreek, sê Hy vir Simon: Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang.

Luk 5:5 En Simon antwoord en sê vir Hom: Meester, ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat sak.

Luk 5:6 En toe hulle dit gedoen het, het hulle ‘n groot menigte visse ingesluit; en hulle net wou skeur.

Luk 5:7 Daarop wink hulle vir hul maats in die ander skuit om hulle te kom help. En hulle het gekom en altwee die skuite vol gemaak, sodat hulle amper gesink het.

Luk 5:8 En toe Simon Petrus dit sien, val hy neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige man!

Luk 5:9 Want verbaasdheid het hom aangegryp en almal wat by hom was, oor die vangs van visse wat hulle gemaak het;

Luk 5:10 en net so ook vir Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedéüs, wat Simon se maats was. En Jesus sê vir Simon: Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang.

Luk 5:11 En nadat hulle die skuite aan land gebring het, het hulle alles verlaat en Hom gevolg.

Luk 5:12 En terwyl Hy in een van die stede was, kom daar ‘n man vol van melaatsheid; en toe hy Jesus sien, val hy op sy aangesig en smeek Hom en sê: Here, as U wil, kan U my reinig.

Luk 5:13 Daarop steek Hy die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil, word gereinig! En dadelik het die melaatsheid hom verlaat.

Luk 5:14 Toe gee Hy hom bevel om dit aan niemand te vertel nie; maar, sê Hy, gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging, soos Moses voorgeskrywe het, vir hulle tot ‘n getuienis.
Luk 5:15 Maar die gerug aangaande Hom is nog meer versprei, en groot menigtes het bymekaargekom om te luister en deur Hom van hulle siektes genees te word.

Luk 5:16 Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid.

Luk 5:17 En op een van dié dae was Hy besig om te leer; en Fariseërs en wetgeleerdes wat gekom het uit elke dorp van Galiléa en Judéa en uit Jerusalem, het daar gesit, en daar was krag van die Here om hulle te genees.

Luk 5:18 En daar het manne ‘n mens wat verlam was, op ‘n bed gebring, en hulle het probeer om hom in te bring en voor Hom neer te sit.

Luk 5:19 En toe hulle vanweë die skare geen kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met die bed afsak deur die panne tussen die mense in en voor Jesus.

Luk 5:20 En toe Hy hulle geloof sien, sê Hy vir hom: Mens, jou sondes is jou vergewe.

Luk 5:21 En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het begin redeneer en sê: Wie is Hy wat so godslasterlik praat? Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?

Luk 5:22 Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk, en Hy antwoord en sê vir hulle: Wat redeneer julle in jul harte?

Luk 5:23 Wat is makliker, om te sê: Jou sondes is jou vergewe; of om te sê: Staan op en loop?

Luk 5:24 Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe sê Hy vir die verlamde man: Ek sê vir jou, staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.

Luk 5:25 Hy staan toe onmiddellik voor hulle op, neem die bed op waar hy op gelê het, en gaan na sy huis, terwyl hy God verheerlik.

Luk 5:26 En verbasing het almal aangegryp, en hulle het God verheerlik en is met vrees vervul en het gesê: Ons het vandag ongelooflike dinge gesien.

Luk 5:27 En ná hierdie dinge het Hy uitgegaan en ‘n tollenaar met die naam van Levi by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: Volg My.

Luk 5:28 En hy het alles verlaat en opgestaan en Hom gevolg.

Luk 5:29 En Levi het ‘n groot feesmaal vir Hom in sy huis gegee; en daar was ‘n groot menigte van tollenaars en ander wat saam met hulle aan tafel was.

Luk 5:30 En hulle skrifgeleerdes en die Fariseërs het by sy dissipels gemurmureer en gesê: Waarom eet en drink julle saam met die tollenaars en sondaars?

Luk 5:31 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is.

Luk 5:32 Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.

Luk 5:33 Toe sê hulle vir Hom: Waarom vas die dissipels van Johannes dikwels en doen gebede; so ook dié van die Fariseërs; maar u dissipels eet en drink?

Luk 5:34 En Hy sê vir hulle: Kan julle die bruilofsgaste dan laat vas solank as die bruidegom by hulle is?

Luk 5:35 Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word; dan sal hulle vas, in daardie dae.

Luk 5:36 En Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel: Niemand sit ‘n lap van ‘n nuwe kleed op ‘n ou kleed nie; anders skeur dit die nuwe ook, en die lap wat van die nuwe af kom, pas nie by die oue nie.

Luk 5:37 En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke skeur, en dit sal uitloop, en die sakke sal vergaan.

Luk 5:38 Maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word, en altwee word saam behou.

Luk 5:39 En niemand wat ou wyn gedrink het, wil dadelik nuwe hê nie; want hy sê: Die oue is beter.

Die Evangelie van Lukas in Afrikaans - Hoofstuk 4



Luk 4:1 En Jesus het vol van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af, en is deur die Gees in die woestyn gelei,

Luk 4:2 waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is; en Hy het niks geëet in dié dae nie; en toe hulle verby was, het Hy naderhand honger geword.

Luk 4:3 Toe sê die duiwel vir Hom: As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dat dit brood moet word.

Luk 4:4 Maar Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.

Luk 4:5 Toe bring die duiwel Hom op ‘n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in ‘n oomblik se tyd.

Luk 4:6 En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.

Luk 4:7 As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort.

Luk 4:8 En Jesus antwoord en sê vir hom: Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.

Luk 4:9 Toe bring hy Hom na Jerusalem en stel Hom op die dak van die tempel en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself hiervandaan neer.

Luk 4:10 Want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U om U te bewaar,

Luk 4:11 en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.

Luk 4:12 En Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.

Luk 4:13 En toe die duiwel elke versoeking geëindig het, het hy ‘n tyd lank van Hom gewyk.

Luk 4:14 En Jesus het in die krag van die Gees na Galiléa teruggekeer, en daar het ‘n gerug aangaande Hom deur die hele omtrek uitgegaan;

Luk 4:15 en Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys.

Luk 4:16 Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees.

Luk 4:17 En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is:

Luk 4:18 Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees;

Luk 4:19 om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.

Luk 4:20 En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig.

Luk 4:21 Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.

Luk 4:22 En almal het vir Hom getuienis gegee en was verwonderd oor die aangename woorde wat uit sy mond kom; en hulle sê: Is Hy nie die seun van Josef nie?

Luk 4:23 En Hy antwoord hulle: Julle sal My ongetwyfeld hierdie spreekwoord toevoeg: Geneesheer, genees uself! Alles wat ons hoor wat in Kapérnaüm gebeur het, doen dit hier in u vaderstad ook.

Luk 4:24 En Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, geen profeet is aangenaam in sy vaderland nie.

Luk 4:25 Maar Ek sê vir julle met waarheid, daar was baie weduwees in Israel in die dae van Elía toe die hemel toegesluit was drie jaar en ses maande lank, toe daar ‘n groot hongersnood gekom het in die hele land,

Luk 4:26 en na nie een van hulle is Elía gestuur nie, behalwe na Sarfat in Sidon, na ‘n weduwee.

Luk 4:27 En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van Elísa, die profeet, en nie een van hulle is gereinig nie, behalwe Naäman, die Síriër.

Luk 4:28 En almal in die sinagoge is met woede vervul toe hulle dit hoor;

Luk 4:29 en hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle stad gebou was, om Hom van die krans af te gooi.

Luk 4:30 Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan.

Luk 4:31 En Hy het afgekom na Kapérnaüm, ‘n stad van Galiléa, en hulle op die sabbat geleer.

Luk 4:32 En hulle was verslae oor sy leer, want sy woord was met gesag.

Luk 4:33 En in die sinagoge was daar ‘n man met die gees van ‘n onreine duiwel, en hy het met ‘n groot stem uitgeskreeu

Luk 4:34 en gesê: Ha! wat het ons met U te doen, Jesus, Nasaréner? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God!

Luk 4:35 En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil, en gaan uit hom uit! En die duiwel het hom tussen hulle neergegooi en uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak.

Luk 4:36 Toe kom daar verbaasdheid oor almal, en hulle praat met mekaar en sê: Wat vir ‘n woord is dit, dat Hy met gesag en mag die onreine geeste gebied, en hulle gaan uit!

Luk 4:37 En daar het ‘n gerug aangaande Hom uitgegaan na elke plek van die omgewing.

Luk 4:38 En Hy het opgestaan uit die sinagoge en in die huis van Simon gekom. En Simon se skoonmoeder was aangetas deur ‘n hewige koors, en hulle het Hom geraadpleeg oor haar.

Luk 4:39 Toe gaan Hy oor haar staan en bestraf die koors, en dit het haar verlaat, en sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien.

Luk 4:40 En toe die son ondergaan, het almal hulle siekes, mense met allerhande kwale, na Hom gebring, en Hy het een vir een van hulle die hande opgelê en hulle gesond gemaak.

Luk 4:41 En duiwels het ook uit baie uitgegaan en geskreeu en gesê: U is die Christus, die Seun van God! En Hy het hulle bestraf en nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het dat Hy die Christus was.

Luk 4:42 En toe dit dag geword het, het Hy uitgegaan en na ‘n verlate plek vertrek; en die skare het Hom gesoek en by Hom gekom en Hom teëgehou, dat Hy nie van hulle sou weggaan nie.

Luk 4:43 Maar Hy het vir hulle gesê: Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur.

Luk 4:44 En Hy het verder in die sinagoges van Galiléa gepreek.

Thursday 16 October 2008

Nicol Campbell Lesing - Die Enigste Werklikheid, gelees deur Andre Walters

Ek is diep bewus van die ramp en verdriet wat die lewenspad van elke skepsel kenmerk en besef ook terdeë hoe swak en nietig ons is in die aangesig van probleme, moeilikhede en teenspoed. As ons egter opreg glo dat die Almagtige Teenwoordigheid van God alvermoënd, alwetend en alomteenwoordig is, bestaan daar nie ‘n enkele rede in die wêreld waarom u of ek persoonlikhede, toestande of omstandighede moet vrees nie. Nietemin, as ons ons diepste gedagtes en emosies sorgvuldig ontleed, sal ons vind dat ons so bewus is van antagonistiese omgewings en vyandiggesinde individue dat ons hoegenaamd nie in staat is om ons van hulle invloed los te maak en te bevry nie. Per slot van sake, bind ons hulle met elke gedagte, woord en daad nog stewiger aan ons vas.

Indien u na my (of 'n ander Waarheids-dosent) kom en beweer dat u geen geloof het nie, begaan u 'n groot flater, want u beskik nie slegs oor geloof nie, maar inderdaad ook oor heerskappy en mag, om of die negatiewe dinge wat u ontstel tot stand te bring, of om u hegter saam te snoer met die teëspoed wat reeds in u lewe bestaan. U klem met alle mag en geweld aan die dinge vas sodat hulle, en nie God nie, nader aan u is as u hande en u voete, ja, selfs nader as u eie asem.

Wat is God - waar kan Hy gevind word?

Ek is daarvan oortuig dat meeste van u aan Hom dink as 'n persoonlikheid, nie binne-in u nie maar buite-om u. As gevolg van hierdie verstandelike en emosionele skeiding beskou u uself eerder as die manifestasie van 'n fragment van lewe, waaroor u geen beheer het nie, as wat u aanvaar dat u die erfgenaam van Almagtigheid en Alwetendheid is.

Christus het ons geleer dat ons heerskappy en mag het oor fisiese, emosionele en stoflike omstandighede; dat hierdie beheer nie iets is wat ons van God hoef te vra nie, maar dat dit die gesag is wat ons met ons saamgebring het toe ons tot die bestaan op hierdie lewensvlak toegetree het. En juis omdat ons hierdie gesag nie kan handhaaf nie, sal God ons jammerlike ervaringe nie vir ons verander nie.

Tydens my oordenkinge laat ek my gedagtes gaan oor alles wat die Meester - en andere - verkondig en geleer het aangaande die Alomteenwoordigheid van God. Hierdie openbaringe herhaal ek oor en oor, nie om my van die waarheid en egtheid daarvan te probeer oortuig nie, glad nie, maar omdat die gedurige bestudering daarvan my 'n dieper insig gee oor die mag wat aan die mens verleen is en van die heerskappy wat hy in werklikheid kan hê sodra hy die innerlike sekerheid het dat dit 'n kern-hoedanigheid of eienskap van sy eie wese is. Dit verheug my om daaraan te dink dat elkeen van ons oor die geestelike mag beskik wat nodig is om elke lewensprobleem op te los en iedere ongewenste toestand te oorwin en tot in die niet te verdryf, na waar dit oorspronklik ontstaan het.

Ons kan ‘n ernstige kroniese siekte in stralende gesondheid omskep, 'n bedroefde en leë hart met geluk en vreugde vul. Deur middel van die toepassing van die geestelike idees wat, sonder dat ons daarvan weet, in ons leef, beweeg en bestaan, kan ons, ons eie voorspoed so bewerkstellig dat ons 'n oorvloed het waarin ook ander kan deel.

Is dit nie tragies nie, dat die mens wat binne-in hom 'n oorvloed omdra van alles wat nodig is vir sy algehele welsyn op elke vlak van die bewussyn, hierdie mag gebruik om die gebrek, wat hy self geskep het, aan hom vas te koppel. Hy moet dit eerder gebruik om die heilsaamheid waaruit die Skepper hom saamgestel het deur hom, vanuit die geestelike na die fisiese en stoflike, te laat vloei en so sy lewe te verryk.

Laat ek u vertel van 'n vrou wat ek onlangs ontmoet het wat hierdie mag, inherent aan elke mens, in verband met haar persoonlike probleme laat geld het. Sy het 'n kwaadaardige gewas gehad - 'n ongeneeslike kanker - waarvoor sy reeds al die verskillende behandelings ontvang het wat aan die mediese wetenskap bekend is. Toe sy van haar geneeshere verneem dat hulle haar nie kon gesond maak nie, het sy gevoel dat sy liewer onmiddellik wou sterf as om vir weke en maande die geleidelike aftakeling van haar liggaam te moet verduur. In haar wanhoop het sy gebid, gebid soos 'n kind, nie in geloof nie maar uit vrees: "O God, help my, verlos my!" Dit was al. Kort daarna het sy kom vertel dat sy pas weer die spesialis in verband met haar jongste X-straalfoto's gaan spreek het en hy verklaar het dat sy nou volkome genees is.

Omdat ek gedink het dat hierdie dokter waarskynlik van mening is dat die oorspronklike diagnose verkeerd was en daar nooit iets ernstig met haar geskort het nie, het ek haar uitgevra oor wat hy presies gesê het. Sy vertel my toe dat die betrokke spesialis 'n Waarheid-student is en dat hy ook geglo het die siekte kan genees word. Die Dokter het toe ook bygevoeg: "Hoe gelukkig was jy nie! Watter heerlike wonder dat jy in staat was om op hierdie manier verlos te kon word!"

As ander hulle met dieselfde gevoels-diepte op die geestelike mag binne-in hulle kon beroep, sou soortgelyke resultate in ontelbaar duisende ander lewens bewaarheid kon word.

Dit sou totaal onsinnig en dwaas wees om te wil beweer dat dit maar 'n geisoleerde geval is, of dat die vrou slegs op die sielkundige oomblik genees is toe sy reeds haar persoonlike Karma uitgewerk het, dat haar genesing om die een of ander rede in ieder geval sou geskied. As dit so was, watter hoop is daar dan nou vir u en vir my solank ons op hierdie aarde is? As ons, ons moet troos met die hoop dat ons in die een of ander inkarnasie of, op 'n ander vlak van bewussyn, die gesondheid van Christus in die persoon van Jesus hier op aarde sal ontvang? Dit sou tog totaal tevergeefs blyk te wees as ons jare der jare, miskien eeue lank moet aanhou alvorens ons daarin kon slaag om 'n absolute bewussyn van die Teenwoordigheid van God te verkry.

In die Bybel, in II Petrus 3:8, staan daar geskryf: "Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag." Daar kan dus geredeneer word dat die Here Hom glad nie steur aan die tyd wat dit verg om Homself deur 'n bepaalde liggaam te vervolmaak nie, en dat hierdie liefhebbende Vader ook nie omgee hoe lank Sy kinders gebuk gaan onder siekte en stryd teen gebrek, armoede en ellende nie.

Kan ons so 'n opvatting versoen met die leerstellinge van Christus wat duidelik gesê het dat God Liefde is en dat die gees van heerskappy wat Hy besit en gebruik het, een is met die goddelike Gees wat in elkeen van ons woon? Hy het na Homself verwys as die Seun van God en gesê dat ons ook kinders van dieselfde geestelike Vader is wat verborge en onsigbaar bly totdat Hy deur middel van die bewussyn van Sy kind, vanuit die binneste, die siel, na buite, of sigbaar, manifesteer.

Die Geestelike Liefde wat afgesien van die menslike verstand in die individu werksaam is, is soos 'n uitsaaistasie wat onophoudelik sy mag, skoonheid, kennis en beskerming bekendmaak en die leuens omtrent die werklikheid van toestande en omstandighede aldus weerlê. Die onwaarhede wat ons beperkte klein menslike verstandjies aan ons opdis om ons te probeer wys maak dat ons geen beheer en gesag oor skyn-omstandighede en persoonlikhede het nie. En deur middel van sy gedurige uitsendings probeer hierdie Liefde van God ons weerhou van ons verkeerde gelowe en opvattinge.

Die menslike verstand is feilbaar, dit fabriseer gedurig leuens wat verkondig dat die mens en sy heil geskei is en los staan van mekaar. Maar die Verstand wat God is, deurdring alle dinge - lewende en dooie dinge - met Sy persoonlike eienskappe van Ongeskondenheid en Vlekkeloosheid. Aan ons is die voorreg gegun om hierdie hoedanighede self vry te stel, of onmiddellik, of op 'n tyd waarop ons self besluit.

Ons leer deur ons flaters wat ons pyn en leed veroorsaak, maar dit is nie die enigste wyse waarop ons kennis kan maak met die Waarheid nie, want dit is nie die wil van God dat Sy kinders moet ly nie. As ons kan leer hoe om die bewussyn van God as Liefde in ons daaglikse lewe uit te leef en te openbaar, hoef ons nie deur die vuur van beproewing te gaan nie. Waar Liefde toegelaat word, skenk Hy ook Sy goddelike heerskappy en geluk en die uitwissing van vrees (hetsy vir toestande, persoonlikhede of omstandighede) asook 'n besef van eenheid met al die geestelike begrippe en idees wat vir sukses en voorspoed vereis word. Waar ons in harmonie met Liefde leef, is ons volkome met God verenig, maar dit vind ons gans en al te moeilik. Ons troetel ons ongeduldigheid, ons onverdraagsaamheid, haatdraendheid, wrok, selfbejammering en negatiewe trots; ons weier om slegte gewoontes te laat vaar; ons probeer nog steeds om ons te wreek en ander te vergeld en ons besef nie dat juis op hierdie wyse ons totaal afgesny is van ons heil. Dit is dan nutteloos om God te blameer vir wat mag volg.

Die ellende wat ons om ons sien, het niks met Hom te make nie. Hy het dit nie laat manifesteer nie, dit spruit slegs uit onkunde voort, en hulle wat daaronder ly, is mense wat nog nie bewus is van hulle Godgegewe persoonlike gesag en heerskappy nie.

Enkele dae gelede het 'n dame my kom spreek en gesê hoewel sy die Skool reeds 'n week gelede om hulp genader het, haar omstandighede nog maar dieselfde was. Op my vraag of sy op die gesette tye waarop ons vir haar gebid het in die gees saam met ons was en of sy bepaalde tye aan bepeinsing bestee het soos sy gevra is om te doen, het sy geantwoord dat sy veels te besig was om haar vir vyftien minute per dag af te sonder en tot God te bid. Naïef het sy bygevoeg: "Ek verwag dat julle dit vir my sal doen."

Probeer jou voorstel wat 'n skoolmeester aan 'n leerling sou sê wat so 'n houding inneem en jy sal dadelik besef hoe geheel en al onmoontlik en afkeurenswaardig haar verwagtings was. Niemand kan verwag dat die goeie in sy lewe moet uitkristalliseer sonder dat hy self sy plig nakom nie, want niks word in hierdie lewe bereik sonder die een of ander vorm van inspanning nie, hetsy van 'n geestelike, verstandelike, emosionele of fisieke aard.

Die ganse wêreld - die heelal - behoort aan ons sodra ons geleer het om dit met vertroue in God te aanvaar; sodra ons dit nie meer toeken aan toestande, of aan individue nie en sonder enige twyfel in ons gemoed en hart uiteindelik verstaan dat daar slegs maar een Mag van die Goeie is, naamlik God wat ons Liefde noem.

Liefde vrees geen mens of gebrek aan stoflike sekuriteit, en die mens wat in harmonie daarmee saam leef, bekommer hom nie selfs al is sy sakke leeg, want hy weet dat hy en die Godgegewe heerskappy 'n eenheid uitmaak en dat nog voordat hy roep, God antwoord en terwyl hy nog praat, God hom reeds verhoor het, en dat Hy alles wat nodig is voorsien.

Dis hierdie bewussyn waarna ons almal streef, die bewussyn van die werklikheid van God - teenoor die onwerklikheid van toestande wat niks anders is nie as die leuens van die intellek, die vyf sintuie en ons beperkte rasionele vermoëns wat alleen wil voorspel of 'n ding gedoen of nie gedoen kan word nie. As ons wil volhard om na die skyn te oordeel en om individue mag oor ons te gee, sal ons nooit daarin slaag om God’s heil in ons lewe volmag te gee nie.

Hy is altyd met ons, probeer steeds om deur middel van ons geestelike rusteloosheid 'n bewussyn van Hom in die menslike hart te bewerkstellig. En Hy poog voortdurend om ons dit aan die verstand te bring dat daar iets beters in die lewe vir ons is as dit wat ons tans ervaar en dat, indien ons luister, ons die Stem van ons Vader sal hoor wanneer Hy met ons praat en sê: Ek is die Gesondheid wat siekte sal vervang, die Liefde wat tweedrag sal uitwis, die Voorspoed wat die plek van elke gebrek en tekort sal inneem. Stel My vry!

As ons nog steeds wil bly glo dat mense ons lewens kan beheer of oor ons lot kan beskik, moet ons self die verantwoordelikheid vir die gevolge dra. Christus het immers nie gesê: "Laat dit vir julle wees volgens julle geloof, mits X, Y of Z dit dalk sal toelaat." Jy en God maak 'n meerderheid uit wat heeltemal selfstandig is. Niemand kan Hom dwarsboom nie, niemand kan Sy goedheid verhinder of keer nie, want Hy is die Almag, die onweerstaanbare Mag. Selfs in die mees teenspoedige omstandighede en die onaangenaamste omgewings is Hy teenwoordig en Hy verklaar sodat die hele wêreld Hom kan hoor: "Ek sal aanhou die kwade tot 'n val bring en oorwin totdat My heil volbring is" en nog jy nog ek, nog enige ander klein persoonlikheid, kan verhoed dat Sy seën manifesteer.

Laat ons nogtans nie uit die oog verloor dat die Stem wat tot ons spreek die Stem van Liefde is nie, en as ons verlang dat Liefde in ons lewe in vervulling tree, ons vanselfsprekend in harmonie daarmee moet verkeer. Ons hart moet saam klop met die Hart van God en ons moet nie kieskeurig wees aan wie ons, ons liefde en goedheid bewys nie. Ons moet soos God wees en sonder enige diskriminasie aan 'n ieder en 'n elke gee wat ons het om te gee. Elke mens op aarde is 'n tempel van die lewende Vader. Elke individu, van die geringste tot die vernaamste, het toegang tot Hom en niemand kan hom daardie toegang verbied of belet dat die mag van geloof deur hom manifesteer nie. As ek in God glo en op Hom vertrou, kan ek nie verhoed dat Hy besit neem van my liggaam se gesondheid nie, of voorkom dat net voorspoed al my belange kenmerk nie. Ewemin kan ek hierdie dinge in jou geval belet as jy op Hom vertrou.

Dit is hierdie geestelike heerskappy wat net die een Magsbron erken, eerder as die diktatoriale soort wat probeer om die vrye wil van die individu te beheer – die vryheid waarna ons verlang en waarvoor ons soek. Dit is die begrip dat in Liefde ons almal lede van mekaar is. Elke mens op aarde moet hierdie bewussyn van ‘n eenheid met sy naaste verkry voor hy die Waarheid sal besef dat Liefde die enigste Mag ter wêreld is wat elke probleem kan oplos en wat die ganse mensheid vrede kan gee.

Liefde ken geen versperrings, geen tyd, geen plek of geen ruimte nie. Dit praat een universele taal en sal, so lank as God bestaan, naamlik tot in alle ewigheid, aan elke skepsel oor en oor vertel dat Liefde altyd gee, vergeef en oorleef en steeds met ope hande staan om te gee, want dit is die voorreg van Liefde om te gee en gee en gee.

Wednesday 8 October 2008

Die Evangelie van Lukas in Afrikaans - Hoofstuk 3


Luk 3:1 En in die vyftiende jaar van die regering van keiser Tibérius, toe Pontius Pilatus goewerneur was van Judéa en Herodes viervors van Galiléa, en Filippus, sy broer, viervors van Ituréa en die land Trachonítus, en Lisánias viervors van Abiléne,
Luk 3:2 tydens die hoëpriesterskap van Annas en Kájafas, het die woord van God gekom tot Johannes, die seun van Sagaría, in die woestyn.
Luk 3:3 En hy het gekom in die hele omtrek van die Jordaan en die doop van bekering tot vergifnis van sondes verkondig;
Luk 3:4 soos geskrywe is in die boek van die woorde van Jesaja, die profeet, waar hy sê: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit.
Luk 3:5 Elke dal moet opgevul word en elke berg en heuwel wegsak; en die krom draaie sal ‘n reguit pad word en die skurwe plekke gelyk weë.
Luk 3:6 En alle vlees sal die heil van God sien.
Luk 3:7 Toe sê hy vir die skare wat uitgegaan het om deur hom gedoop te word: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?
Luk 3:8 Dra dan vrugte wat by die bekering pas, en moenie by julleself begin sê: Ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek.
Luk 3:9 Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom dan wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
Luk 3:10 En die skare het hom gevra en gesê: Wat moet ons dan doen?
Luk 3:11 En hy antwoord en sê vir hulle: Wie twee kledingstukke het, moet meedeel aan hom wat nie het nie; en wie voedsel het, moet dieselfde doen.
Luk 3:12 En tollenaars het ook gekom om gedoop te word, en vir hom gesê: Meester, wat moet ons doen?
Luk 3:13 En hy antwoord hulle: Moenie meer invorder as wat julle voorgeskrywe is nie.
Luk 3:14 En die soldate het hom ook gevra en gesê: En ons, wat moet ons doen? En hy sê vir hulle: Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede met julle soldy.
Luk 3:15 En terwyl die volk in verwagting was, en almal in hulle hart oorweeg het aangaande Johannes of hy nie miskien die Christus was nie,
Luk 3:16 antwoord Johannes almal en sê: Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie—Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.
Luk 3:17 Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring saambring in sy skuur, maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand.
Luk 3:18 Hy het dan ook met baie ander vermaninge die evangelie aan die volk verkondig.
Luk 3:19 Maar toe Herodes, die viervors, deur hom bestraf is oor Heródias, die vrou van Filippus, sy broer, en oor al die slegte dinge wat Herodes gedoen het,
Luk 3:20 het hy by alles nog dit gevoeg, dat hy Johannes in die gevangenis opgesluit het.
Luk 3:21 En toe die hele volk gedoop en Jesus ook gedoop is, en Hy besig was om te bid, het die hemel oopgegaan;
Luk 3:22 en die Heilige Gees het in liggaamlike gedaante soos ‘n duif op Hom neergedaal; en ‘n stem het uit die hemel gekom wat sê: U is my geliefde Seun; in U het Ek ‘n welbehae.
Luk 3:23 En Hy, Jesus, was omtrent dertig jaar oud toe Hy begin leer het; en Hy was, soos hulle gemeen het, die seun van Josef, die seun van Eli,
Luk 3:24 die seun van Mattat, die seun van Levi, die seun van Melgi, die seun van Janna, die seun van Josef,
Luk 3:25 die seun van Mattatías, die seun van Amos, die seun van Nahum, die seun van Esli, die seun van Nággai,
Luk 3:26 die seun van Maät, die seun van Mattatías, die seun van Sémeï, die seun van Josef, die seun van Juda,
Luk 3:27 die seun van Jóhanan, die seun van Resa, die seun van Serubbábel, die seun van Seáltiël, die seun van Neríja,
Luk 3:28 die seun van Melgi, die seun van Addi, die seun van Kosam, die seun van Elmódam, die seun van Er,
Luk 3:29 die seun van Joses, die seun van Eliëser, die seun van Jorim, die seun van Mattat, die seun van Levi,
Luk 3:30 die seun van Símeon, die seun van Juda, die seun van Josef, die seun van Jonan, die seun van Éljakim,
Luk 3:31 die seun van Meléas, die seun van Mainan, die seun van Máttata, die seun van Natan, die seun van Dawid,
Luk 3:32 die seun van Isai, die seun van Obed, die seun van Boas, die seun van Salmon, die seun van Nagson,
Luk 3:33 die seun van Ammínadab, die seun van Ram, die seun van Hesron, die seun van Peres, die seun van Juda,
Luk 3:34 die seun van Jakob, die seun van Isak, die seun van Abraham, die seun van Tera, die seun van Nahor,
Luk 3:35 die seun van Serug, die seun van Rehu, die seun van Peleg, die seun van Heber, die seun van Sela,
Luk 3:36 die seun van Kainan, die seun van Arpágsad, die seun van Sem, die seun van Noag, die seun van Lameg,
Luk 3:37 die seun van Metúsala, die seun van Henog, die seun van Jered, die seun van Mehaláleël, die seun van Kenan,
Luk 3:38 die seun van Enos, die seun van Set, die seun van Adam, die seun van God.

Die Evangelie van Lukas in Afrikaans - Hoofstuk 2



Luk 2:1 En in daardie dae het daar ‘n bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele wêreld ingeskryf moes word.
Luk 2:2 Hierdie eerste inskrywing het plaasgevind toe Cirénius goewerneur van Sírië was.
Luk 2:3 En almal het gegaan om ingeskryf te word, elkeen na sy eie stad.
Luk 2:4 En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was,
Luk 2:5 om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was.
Luk 2:6 En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar;
Luk 2:7 en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.
Luk 2:8 En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het.
Luk 2:9 En meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig.
Luk 2:10 En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees,
Luk 2:11 dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.
Luk 2:12 En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê.
Luk 2:13 En skielik was daar saam met die engel ‘n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê:
Luk 2:14 Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!
Luk 2:15 En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die herders vir mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekend gemaak het.
Luk 2:16 En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat in die krip lê.
Luk 2:17 En toe hulle dit gesien het, het hulle oral die woord bekend gemaak wat aan hulle van dié Kindjie vertel is.
Luk 2:18 En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is;
Luk 2:19 maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink.
Luk 2:20 En die herders het teruggegaan en God verheerlik en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos aan hulle gesê is.
Luk 2:21 En toe agt dae vervul was, dat hulle die Kindjie sou besny, het hulle Hom Jesus genoem, die naam wat deur die engel gegee is voor sy ontvangenis in die moederskoot.
Luk 2:22 En nadat die dae van haar reiniging volgens die wet van Moses vervul was, het hulle Hom na Jerusalem gebring om Hom aan die Here voor te stel,
Luk 2:23 soos geskrywe is in die wet van die Here: Elke manlike kind wat die moederskoot open, sal heilig vir die Here genoem word;
Luk 2:24 en om die offer te gee volgens wat gesê is in die wet van die Here: ‘n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.
Luk 2:25 En daar was ‘n man in Jerusalem met die naam van Símeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom.
Luk 2:26 En aan hom was dit deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie.
Luk 2:27 En hy het deur die Gees in die tempel gekom; en toe die ouers die Kindjie Jesus inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die wet,
Luk 2:28 het hy Hom in sy arms geneem en God geloof en gesê:
Luk 2:29 Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord,
Luk 2:30 omdat my oë u heil gesien het,
Luk 2:31 wat U berei het voor die oë van al die volke—
Luk 2:32 ‘n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.
Luk 2:33 En Josef en sy moeder het hulle verwonder oor die dinge wat van Hom gesê is.
Luk 2:34 En Símeon het hulle geseën en aan Maria, sy moeder, gesê: Kyk, hierdie Kind is bestemd tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word—
Luk 2:35 ja, ‘n swaard sal deur jou eie siel gaan—sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word.
Luk 2:36 En daar was Anna, ‘n profetes, die dogter van Fánuel, uit die stam van Aser. Sy was op baie ver gevorderde leeftyd en het van haar maagdom af sewe jaar lank met haar man saamgelewe;
Luk 2:37 en sy was ‘n weduwee van omtrent vier en tagtig jaar. Sy het nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag.
Luk 2:38 En sy het in dieselfde uur daar gekom en die Here geprys en van Hom gespreek met almal in Jerusalem wat die verlossing verwag het.
Luk 2:39 En toe hulle alles volbring het wat volgens die wet van die Here was, het hulle teruggegaan na Galiléa, na hulle stad Násaret.
Luk 2:40 En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid. En die genade van God was op Hom.
Luk 2:41 En sy ouers was gewoond om elke jaar met die paasfees na Jerusalem te gaan.
Luk 2:42 En toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle, volgens die gebruik van die fees, na Jerusalem opgegaan.
Luk 2:43 En nadat die feesdae vir hulle verby was, en terwyl hulle teruggaan, het die Kind Jesus in Jerusalem agtergebly; en Josef en sy moeder het dit nie geweet nie.
Luk 2:44 Maar omdat hulle gedink het dat Hy by die reisgeselskap was, het hulle ‘n dagreis ver gegaan en Hom onder die familie en onder die bekendes gesoek.
Luk 2:45 En toe hulle Hom nie vind nie, het hulle teruggegaan na Jerusalem en Hom gesoek.
Luk 2:46 En ná drie dae het hulle Hom in die tempel gevind, terwyl Hy in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra.
Luk 2:47 En almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy verstand en sy antwoorde.
Luk 2:48 En toe hulle Hom sien, was hulle verslae. En sy moeder sê vir Hom: Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het jou met angs gesoek.
Luk 2:49 En Hy sê vir hulle: Waarom het u My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?
Luk 2:50 En hulle het die woord wat Hy aan hulle gesê het, nie verstaan nie.
Luk 2:51 En Hy het saam met hulle gegaan en in Násaret gekom, en Hy was hulle onderdanig. En sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar.
Luk 2:52 En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.