Thursday 16 October 2008

Nicol Campbell Lesing - Die Enigste Werklikheid, gelees deur Andre Walters

Ek is diep bewus van die ramp en verdriet wat die lewenspad van elke skepsel kenmerk en besef ook terdeë hoe swak en nietig ons is in die aangesig van probleme, moeilikhede en teenspoed. As ons egter opreg glo dat die Almagtige Teenwoordigheid van God alvermoënd, alwetend en alomteenwoordig is, bestaan daar nie ‘n enkele rede in die wêreld waarom u of ek persoonlikhede, toestande of omstandighede moet vrees nie. Nietemin, as ons ons diepste gedagtes en emosies sorgvuldig ontleed, sal ons vind dat ons so bewus is van antagonistiese omgewings en vyandiggesinde individue dat ons hoegenaamd nie in staat is om ons van hulle invloed los te maak en te bevry nie. Per slot van sake, bind ons hulle met elke gedagte, woord en daad nog stewiger aan ons vas.

Indien u na my (of 'n ander Waarheids-dosent) kom en beweer dat u geen geloof het nie, begaan u 'n groot flater, want u beskik nie slegs oor geloof nie, maar inderdaad ook oor heerskappy en mag, om of die negatiewe dinge wat u ontstel tot stand te bring, of om u hegter saam te snoer met die teëspoed wat reeds in u lewe bestaan. U klem met alle mag en geweld aan die dinge vas sodat hulle, en nie God nie, nader aan u is as u hande en u voete, ja, selfs nader as u eie asem.

Wat is God - waar kan Hy gevind word?

Ek is daarvan oortuig dat meeste van u aan Hom dink as 'n persoonlikheid, nie binne-in u nie maar buite-om u. As gevolg van hierdie verstandelike en emosionele skeiding beskou u uself eerder as die manifestasie van 'n fragment van lewe, waaroor u geen beheer het nie, as wat u aanvaar dat u die erfgenaam van Almagtigheid en Alwetendheid is.

Christus het ons geleer dat ons heerskappy en mag het oor fisiese, emosionele en stoflike omstandighede; dat hierdie beheer nie iets is wat ons van God hoef te vra nie, maar dat dit die gesag is wat ons met ons saamgebring het toe ons tot die bestaan op hierdie lewensvlak toegetree het. En juis omdat ons hierdie gesag nie kan handhaaf nie, sal God ons jammerlike ervaringe nie vir ons verander nie.

Tydens my oordenkinge laat ek my gedagtes gaan oor alles wat die Meester - en andere - verkondig en geleer het aangaande die Alomteenwoordigheid van God. Hierdie openbaringe herhaal ek oor en oor, nie om my van die waarheid en egtheid daarvan te probeer oortuig nie, glad nie, maar omdat die gedurige bestudering daarvan my 'n dieper insig gee oor die mag wat aan die mens verleen is en van die heerskappy wat hy in werklikheid kan hê sodra hy die innerlike sekerheid het dat dit 'n kern-hoedanigheid of eienskap van sy eie wese is. Dit verheug my om daaraan te dink dat elkeen van ons oor die geestelike mag beskik wat nodig is om elke lewensprobleem op te los en iedere ongewenste toestand te oorwin en tot in die niet te verdryf, na waar dit oorspronklik ontstaan het.

Ons kan ‘n ernstige kroniese siekte in stralende gesondheid omskep, 'n bedroefde en leë hart met geluk en vreugde vul. Deur middel van die toepassing van die geestelike idees wat, sonder dat ons daarvan weet, in ons leef, beweeg en bestaan, kan ons, ons eie voorspoed so bewerkstellig dat ons 'n oorvloed het waarin ook ander kan deel.

Is dit nie tragies nie, dat die mens wat binne-in hom 'n oorvloed omdra van alles wat nodig is vir sy algehele welsyn op elke vlak van die bewussyn, hierdie mag gebruik om die gebrek, wat hy self geskep het, aan hom vas te koppel. Hy moet dit eerder gebruik om die heilsaamheid waaruit die Skepper hom saamgestel het deur hom, vanuit die geestelike na die fisiese en stoflike, te laat vloei en so sy lewe te verryk.

Laat ek u vertel van 'n vrou wat ek onlangs ontmoet het wat hierdie mag, inherent aan elke mens, in verband met haar persoonlike probleme laat geld het. Sy het 'n kwaadaardige gewas gehad - 'n ongeneeslike kanker - waarvoor sy reeds al die verskillende behandelings ontvang het wat aan die mediese wetenskap bekend is. Toe sy van haar geneeshere verneem dat hulle haar nie kon gesond maak nie, het sy gevoel dat sy liewer onmiddellik wou sterf as om vir weke en maande die geleidelike aftakeling van haar liggaam te moet verduur. In haar wanhoop het sy gebid, gebid soos 'n kind, nie in geloof nie maar uit vrees: "O God, help my, verlos my!" Dit was al. Kort daarna het sy kom vertel dat sy pas weer die spesialis in verband met haar jongste X-straalfoto's gaan spreek het en hy verklaar het dat sy nou volkome genees is.

Omdat ek gedink het dat hierdie dokter waarskynlik van mening is dat die oorspronklike diagnose verkeerd was en daar nooit iets ernstig met haar geskort het nie, het ek haar uitgevra oor wat hy presies gesê het. Sy vertel my toe dat die betrokke spesialis 'n Waarheid-student is en dat hy ook geglo het die siekte kan genees word. Die Dokter het toe ook bygevoeg: "Hoe gelukkig was jy nie! Watter heerlike wonder dat jy in staat was om op hierdie manier verlos te kon word!"

As ander hulle met dieselfde gevoels-diepte op die geestelike mag binne-in hulle kon beroep, sou soortgelyke resultate in ontelbaar duisende ander lewens bewaarheid kon word.

Dit sou totaal onsinnig en dwaas wees om te wil beweer dat dit maar 'n geisoleerde geval is, of dat die vrou slegs op die sielkundige oomblik genees is toe sy reeds haar persoonlike Karma uitgewerk het, dat haar genesing om die een of ander rede in ieder geval sou geskied. As dit so was, watter hoop is daar dan nou vir u en vir my solank ons op hierdie aarde is? As ons, ons moet troos met die hoop dat ons in die een of ander inkarnasie of, op 'n ander vlak van bewussyn, die gesondheid van Christus in die persoon van Jesus hier op aarde sal ontvang? Dit sou tog totaal tevergeefs blyk te wees as ons jare der jare, miskien eeue lank moet aanhou alvorens ons daarin kon slaag om 'n absolute bewussyn van die Teenwoordigheid van God te verkry.

In die Bybel, in II Petrus 3:8, staan daar geskryf: "Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag." Daar kan dus geredeneer word dat die Here Hom glad nie steur aan die tyd wat dit verg om Homself deur 'n bepaalde liggaam te vervolmaak nie, en dat hierdie liefhebbende Vader ook nie omgee hoe lank Sy kinders gebuk gaan onder siekte en stryd teen gebrek, armoede en ellende nie.

Kan ons so 'n opvatting versoen met die leerstellinge van Christus wat duidelik gesê het dat God Liefde is en dat die gees van heerskappy wat Hy besit en gebruik het, een is met die goddelike Gees wat in elkeen van ons woon? Hy het na Homself verwys as die Seun van God en gesê dat ons ook kinders van dieselfde geestelike Vader is wat verborge en onsigbaar bly totdat Hy deur middel van die bewussyn van Sy kind, vanuit die binneste, die siel, na buite, of sigbaar, manifesteer.

Die Geestelike Liefde wat afgesien van die menslike verstand in die individu werksaam is, is soos 'n uitsaaistasie wat onophoudelik sy mag, skoonheid, kennis en beskerming bekendmaak en die leuens omtrent die werklikheid van toestande en omstandighede aldus weerlê. Die onwaarhede wat ons beperkte klein menslike verstandjies aan ons opdis om ons te probeer wys maak dat ons geen beheer en gesag oor skyn-omstandighede en persoonlikhede het nie. En deur middel van sy gedurige uitsendings probeer hierdie Liefde van God ons weerhou van ons verkeerde gelowe en opvattinge.

Die menslike verstand is feilbaar, dit fabriseer gedurig leuens wat verkondig dat die mens en sy heil geskei is en los staan van mekaar. Maar die Verstand wat God is, deurdring alle dinge - lewende en dooie dinge - met Sy persoonlike eienskappe van Ongeskondenheid en Vlekkeloosheid. Aan ons is die voorreg gegun om hierdie hoedanighede self vry te stel, of onmiddellik, of op 'n tyd waarop ons self besluit.

Ons leer deur ons flaters wat ons pyn en leed veroorsaak, maar dit is nie die enigste wyse waarop ons kennis kan maak met die Waarheid nie, want dit is nie die wil van God dat Sy kinders moet ly nie. As ons kan leer hoe om die bewussyn van God as Liefde in ons daaglikse lewe uit te leef en te openbaar, hoef ons nie deur die vuur van beproewing te gaan nie. Waar Liefde toegelaat word, skenk Hy ook Sy goddelike heerskappy en geluk en die uitwissing van vrees (hetsy vir toestande, persoonlikhede of omstandighede) asook 'n besef van eenheid met al die geestelike begrippe en idees wat vir sukses en voorspoed vereis word. Waar ons in harmonie met Liefde leef, is ons volkome met God verenig, maar dit vind ons gans en al te moeilik. Ons troetel ons ongeduldigheid, ons onverdraagsaamheid, haatdraendheid, wrok, selfbejammering en negatiewe trots; ons weier om slegte gewoontes te laat vaar; ons probeer nog steeds om ons te wreek en ander te vergeld en ons besef nie dat juis op hierdie wyse ons totaal afgesny is van ons heil. Dit is dan nutteloos om God te blameer vir wat mag volg.

Die ellende wat ons om ons sien, het niks met Hom te make nie. Hy het dit nie laat manifesteer nie, dit spruit slegs uit onkunde voort, en hulle wat daaronder ly, is mense wat nog nie bewus is van hulle Godgegewe persoonlike gesag en heerskappy nie.

Enkele dae gelede het 'n dame my kom spreek en gesê hoewel sy die Skool reeds 'n week gelede om hulp genader het, haar omstandighede nog maar dieselfde was. Op my vraag of sy op die gesette tye waarop ons vir haar gebid het in die gees saam met ons was en of sy bepaalde tye aan bepeinsing bestee het soos sy gevra is om te doen, het sy geantwoord dat sy veels te besig was om haar vir vyftien minute per dag af te sonder en tot God te bid. Naïef het sy bygevoeg: "Ek verwag dat julle dit vir my sal doen."

Probeer jou voorstel wat 'n skoolmeester aan 'n leerling sou sê wat so 'n houding inneem en jy sal dadelik besef hoe geheel en al onmoontlik en afkeurenswaardig haar verwagtings was. Niemand kan verwag dat die goeie in sy lewe moet uitkristalliseer sonder dat hy self sy plig nakom nie, want niks word in hierdie lewe bereik sonder die een of ander vorm van inspanning nie, hetsy van 'n geestelike, verstandelike, emosionele of fisieke aard.

Die ganse wêreld - die heelal - behoort aan ons sodra ons geleer het om dit met vertroue in God te aanvaar; sodra ons dit nie meer toeken aan toestande, of aan individue nie en sonder enige twyfel in ons gemoed en hart uiteindelik verstaan dat daar slegs maar een Mag van die Goeie is, naamlik God wat ons Liefde noem.

Liefde vrees geen mens of gebrek aan stoflike sekuriteit, en die mens wat in harmonie daarmee saam leef, bekommer hom nie selfs al is sy sakke leeg, want hy weet dat hy en die Godgegewe heerskappy 'n eenheid uitmaak en dat nog voordat hy roep, God antwoord en terwyl hy nog praat, God hom reeds verhoor het, en dat Hy alles wat nodig is voorsien.

Dis hierdie bewussyn waarna ons almal streef, die bewussyn van die werklikheid van God - teenoor die onwerklikheid van toestande wat niks anders is nie as die leuens van die intellek, die vyf sintuie en ons beperkte rasionele vermoëns wat alleen wil voorspel of 'n ding gedoen of nie gedoen kan word nie. As ons wil volhard om na die skyn te oordeel en om individue mag oor ons te gee, sal ons nooit daarin slaag om God’s heil in ons lewe volmag te gee nie.

Hy is altyd met ons, probeer steeds om deur middel van ons geestelike rusteloosheid 'n bewussyn van Hom in die menslike hart te bewerkstellig. En Hy poog voortdurend om ons dit aan die verstand te bring dat daar iets beters in die lewe vir ons is as dit wat ons tans ervaar en dat, indien ons luister, ons die Stem van ons Vader sal hoor wanneer Hy met ons praat en sê: Ek is die Gesondheid wat siekte sal vervang, die Liefde wat tweedrag sal uitwis, die Voorspoed wat die plek van elke gebrek en tekort sal inneem. Stel My vry!

As ons nog steeds wil bly glo dat mense ons lewens kan beheer of oor ons lot kan beskik, moet ons self die verantwoordelikheid vir die gevolge dra. Christus het immers nie gesê: "Laat dit vir julle wees volgens julle geloof, mits X, Y of Z dit dalk sal toelaat." Jy en God maak 'n meerderheid uit wat heeltemal selfstandig is. Niemand kan Hom dwarsboom nie, niemand kan Sy goedheid verhinder of keer nie, want Hy is die Almag, die onweerstaanbare Mag. Selfs in die mees teenspoedige omstandighede en die onaangenaamste omgewings is Hy teenwoordig en Hy verklaar sodat die hele wêreld Hom kan hoor: "Ek sal aanhou die kwade tot 'n val bring en oorwin totdat My heil volbring is" en nog jy nog ek, nog enige ander klein persoonlikheid, kan verhoed dat Sy seën manifesteer.

Laat ons nogtans nie uit die oog verloor dat die Stem wat tot ons spreek die Stem van Liefde is nie, en as ons verlang dat Liefde in ons lewe in vervulling tree, ons vanselfsprekend in harmonie daarmee moet verkeer. Ons hart moet saam klop met die Hart van God en ons moet nie kieskeurig wees aan wie ons, ons liefde en goedheid bewys nie. Ons moet soos God wees en sonder enige diskriminasie aan 'n ieder en 'n elke gee wat ons het om te gee. Elke mens op aarde is 'n tempel van die lewende Vader. Elke individu, van die geringste tot die vernaamste, het toegang tot Hom en niemand kan hom daardie toegang verbied of belet dat die mag van geloof deur hom manifesteer nie. As ek in God glo en op Hom vertrou, kan ek nie verhoed dat Hy besit neem van my liggaam se gesondheid nie, of voorkom dat net voorspoed al my belange kenmerk nie. Ewemin kan ek hierdie dinge in jou geval belet as jy op Hom vertrou.

Dit is hierdie geestelike heerskappy wat net die een Magsbron erken, eerder as die diktatoriale soort wat probeer om die vrye wil van die individu te beheer – die vryheid waarna ons verlang en waarvoor ons soek. Dit is die begrip dat in Liefde ons almal lede van mekaar is. Elke mens op aarde moet hierdie bewussyn van ‘n eenheid met sy naaste verkry voor hy die Waarheid sal besef dat Liefde die enigste Mag ter wêreld is wat elke probleem kan oplos en wat die ganse mensheid vrede kan gee.

Liefde ken geen versperrings, geen tyd, geen plek of geen ruimte nie. Dit praat een universele taal en sal, so lank as God bestaan, naamlik tot in alle ewigheid, aan elke skepsel oor en oor vertel dat Liefde altyd gee, vergeef en oorleef en steeds met ope hande staan om te gee, want dit is die voorreg van Liefde om te gee en gee en gee.

No comments: