Saturday 5 November 2011

LIGGAAMLIKE- EN GEESTELIKE ONTSPANNINGS OEFENINGE VAN DIE SKOOL VAN DIE WAARHEID deel 1

Ons het almal nodig om gereeld skuiling te vind in die Groot Stilte van die Allerhoogste – om, soos in Psalm 91, “In die Skaduwee van die Almagtige” te rus. Daar is ‘n plek in die innerlike mens waar hierdie diep geestelike stilte ervaar kan word.

Ek onthou goed hoe Nicol Campbell, the stigter van die Skool van die Waarheid, die School of Truth, al sy lesings met ‘n spesifieke oefeningsproses afgesluit het. Die wonderlike stilte wat oor mens daal wanneer mens die oefening doen kan nie regtig beskryf word nie. Jy voel dit net. En dis wat ek jou in hierdie opnames wil wys. Die proses behels eerstens ‘n liggaamlike ontspannings oefening en daarna ‘n geestelike ontspannings- en verdiepings-oefening.

Sodat jy nie elke keer weer hierna moet luister voor jy by die oefening self kan uitkom nie, het ek die opname in twee verdeel. Die eerste opname, hierdie een dus, verduidelik net hoe die proses werk en jy hoef nie weer hierna te luister nie. Die volgende opname, net hierna op hierdie web blad, is die ontspannings oefening self. Die beginsel is dat ‘n ontspanne mens makliker na ‘n dieper bewussynsvlak kan beweeg as iemand wie se liggaam en verstand nog gespanne is van die stampe en stote van die lewe.

Sodra jy klaar hierna geluister het kan jy hierdie eerste deel stop en met die tweede een begin.

· Kies ‘n stil plek waar niks en niemand jou sal steur nie.
· Sit regop in ‘n gerieflike stoel sodat jou liggaam nie onnodig gespanne is nie.
· Laat die hande liggies op die skoot rus.
· Sommige mense noem dit meditasie. Ek noem dit geestelike ontspanning. Wanneer jy geestelik diep ontspan, kan jy die buitewerld uitsluit en jou binnekamer ten volle betree. Jou binnekamer is ‘n geestelike sentrum waar alle dinge bekend is en waar alle dinge verstaan word. Dis ‘n geheime plek wat altyd oop is vir jou om binne te gaan. Moennie doelbewus probeer om jou gedagtes te stop nie. Laat hulle maar kom en gaan. Hou elkeen sonder veel belangstelling dop soos wat dit deur jou kop trek. Distansieer jouself van die gedagtes. Sê vir jouself, “Dis maar net my materiele brein wat hierdie gedagtes genereer. Hulle het niks met my te doen nie” En laat hulle dan maar kom en net gaan. Baie gou sal jy merk dat hulle hul nie meer so baie aan jou opdring nie.

Dit is nie altyd maklik om gou beheer oor ons gedagtes te kry nie. Daarom maak ons aan die begin hierdie stiltetydjie maar kort. Namate ons daarmee volhard en hierdie ontspannings oefening gereeld en met erns doen, namate ons opreg daarna strewe om God in stilte te vind, word dit vir ons makliker om volkome te ontspan, ook in ons gemoed en in ons gedagtes. Dit word ‘n heerlike samesyn wat mens lok om dit gereeld, tenminste een keer per dag te doen, maar onthou, ons moet dit nie vir langer as 20 minute doen nie. Die rede is dat mens God nie net in stilte dien nie, maar ook in ons daaglikse handel en wandel, waar ons streef om die wonderlike stilte van ons innerlike samesyn met God ook oor te plaas in ons daaglikse werk en in ons interaksie met ons medemens en die natuur.

Stop nou die opname en begin die tweede een. Ek wens jou ‘n geseënde stiltetyd toe.

Skool van die Waarheid, School of Truth, Johannesburg,