Sunday 20 September 2009

Die Evangelie van Lukas - Hoofstuk 21, gelees deur andre

1 Jesus het rondgekyk en die rykes hulle gawes in die offergawekis sien gooi. 2 Hy sien toe ook 'n arm weduwee twee klein muntstukkies daar ingooi, 3 en Hy sê: "Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander. 4 Hulle het almal iets uit hulle oorvloed in die offergawekis gegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het om van te lewe." 5 Toe sommige oor die tempel praat, oor die pragtige klippe en gewyde geskenke waarmee dit versier was, sê Jesus: 6 "Alles wat julle sien - daar sal 'n tyd kom dat nie een klip op die ander gelaat sal word nie. Alles sal afgebreek word." 7 Hulle vra Hom toe: "Here, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat is die teken van wanneer dit gaan plaasvind?" 8 Hy antwoord: "Pas op dat julle nie mislei word nie, want baie sal onder my Naam kom en sê: 'Dit is ek!' en: 'Die tyd het aangebreek!' Moenie agter hulle aanloop nie! 9 Wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie beangs raak nie, want hierdie dinge moet eers plaasvind, maar dit is nog nie onmiddellik die einde nie." 10 Verder sê Hy vir hulle: "Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. 11 Daar sal groot aardbewings wees; hongersnode en epidemies sal op baie plekke voorkom. Daar sal skrikwekkende dinge wees en groot tekens van die hemel af. 12 "Maar nog voordat dit alles gebeur, sal hulle julle gevange neem en vervolg. Hulle sal julle oorlewer vir verhoor in die sinagoges en vir opsluiting in gevangenisse; hulle sal julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam. 13 Dit sal vir julle 'n geleentheid wees om van My te getuig. 14 Stel julle dus daarop in om julle nie vooraf oor julle verdediging te kwel nie, 15 want Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee wat deur geeneen van julle teenstanders teengespreek of weerlê kan word nie. 16 Julle sal selfs deur julle ouers en broers en familie en vriende verraai word, en hulle sal party van julle doodmaak. 17 En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar 18 daar sal selfs nie eens 'n haar van julle kop af val nie. 19 Deur julle volharding moet julle julleself red." 20 "Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. 21 Dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug, en dié wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie, 22 want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan bewaarheid. 23 "Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het, want daar sal groot nood in die land heers, en God sal hierdie volk straf. 24 "Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is." 25 "Daar sal tekens wees aan son, maan en sterre. Op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe. 26 Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. 27 En dan sal hulle die Seun van die mens met groot krag en majesteit op 'n wolk sien kom. 28 As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby." 29 En Hy vertel hulle 'n gelykenis: "Let op die vyeboom en al die ander bome. 30 Sodra julle sien dat hulle begin uitloop, weet julle vanself dat die somer al naby is. 31 Net so moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die koninkryk van God naby is. 32 Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal al hierdie dinge gebeur. 33 Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit." 34 "Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos 'n vangnet oorval nie. 35 Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die hele aarde neerkom. 36 Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn." 37 Bedags was Jesus in die tempel besig om die mense te leer, maar snags het Hy uitgegaan en buite op die Olyfberg vernag. 38 In die môre vroeg het die hele volk dan weer in die tempel na Hom kom luister.

Monday 14 September 2009

Die Evangelie van Lukas - Hoofstuk 20, gelees deur andre

1 Op een van daardie dae, toe Jesus by die tempel besig was om die volk te leer en aan hulle die evangelie te verkondig, het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes saam met die familiehoofde nader gestaan 2 en Hom gevra: "Sê vir ons, met watter gesag doen u hierdie dinge? Wie is dit wat u hierdie gesag gegee het?" 3 Hy antwoord hulle: "Ek gaan julle ook iets vra, en julle moet My dan sê: 4 Die doop van Johannes - kom dit van God of van mense af?" 5 Hulle redeneer toe onder mekaar: "As ons sê: 'Van God af,' sal hy sê: 'Waarom het julle hom dan nie geglo nie?' 6 En as ons sê: 'Van mense af,' sal die hele volk ons stenig, want hulle is daarvan oortuig dat Johannes 'n profeet is." 7 Toe antwoord hulle dat hulle nie weet waar dit vandaan kom nie. 8 Daarop sê Jesus vir hulle: "Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie." 9 Verder het Jesus aan die volk hierdie gelykenis vertel: "Daar was 'n man wat 'n wingerd aangeplant en dit aan boere verhuur het. Daarna was hy'n hele ruk weg van die huis af. 10 Toe dit tyd was daarvoor, stuur hy 'n slaaf na die boere toe om sy deel van die wingerd se opbrengs te gaan haal. Maar die boere het die slaaf geslaan en met leë hande weggejaag. 11 Die eienaar het weer probeer en 'n ander slaaf gestuur. Maar hulle het hierdie een ook geslaan en uitgeskel en met leë hande weggejaag. 12 Die eienaar het nog 'n keer probeer en 'n derde slaaf gestuur. Hulle het hom geslaan dat die bloed loop, en hom uit die wingerd uitgegooi. 13 "Toe sê die eienaar van die wingerd: 'Wat moet ek nou doen? Ek sal my geliefde seun stuur. Miskien sal hulle hom ontsien.' 14 Maar toe die boere hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer: 'Dit is die erfgenaam dié. Kom ons slaan hom dood, dan is die erfenis ons s'n.' 15 Toe gooi hulle hom uit die wingerd uit en slaan hom dood. Wat sal die eienaar van die wingerd dan met hulle doen? 16 Hy sal kom en daardie boere om die lewe bring en die wingerd vir ander mense gee." Dié wat dit gehoor het, sê toe: "Nee, dit moenie gebeur nie!" 17 Maar Jesus het hulle aangekyk en gesê: "Wat beteken hierdie Skrifwoord dan: 'Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword' 18 Elkeen wat op hierdie klip val, sal verpletter word; elkeen op wie hy val, sal hy vermorsel." 19 Die skrifgeleerdes en die priesterhoofde het besef dat Jesus met hierdie gelykenis op hulle gesinspeel het. Daarom wou hulle Hom sommer daar en dan gevange neem, maar hulle was bang vir die volk. 20 Hulle het hulle kans afgewag. Toe stuur hulle geheime agente wat hulle as opreg voorgedoen het, om Jesus op een of ander uitspraak te probeer vastrek sodat hulle Hom aan die owerheidsgesag van die goewerneur kon uitlewer. 21 Hulle vra Hom toe: "Meneer, ons weet dat u in u prediking en onderrig regsinnig is. U let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid, en so maak u die wil van God bekend. 22 Is dit reg dat ons aan die keiser belasting betaal, of is dit nie?" 23 Maar Jesus het deur hulle slimstreek gesien en vir hulle gesê: 24 "Wys vir My 'n muntstuk. Wie se kop en naam is daarop?" Hulle antwoord: "Die keiser s'n." 25 Toe sê Hy vir hulle: "Nou ja, gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort." 26 Hulle kon dit nie regkry om Hom voor die volk vas te trek op iets wat Hy gesê het nie. En verwonderd oor sy antwoord, het hulle maar stilgebly. 27 'n Aantal Sadduseërs - dit is die mense wat ontken dat daar 'n opstanding uit die dood is - kom toe nader en vra vir Jesus: 28 "Meneer, Moses het vir ons voorgeskryf: As iemand 'n getroude broer het wat kinderloos sterwe, moet hy met sy broer se weduwee trou en vir sy broer kinders verwek. 29 Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en kinderloos gesterwe. 30 Ook die tweede 31 en die derde het met die weduwee getrou en kinderloos gesterwe, en so het dit met al sewe gegaan. 32 Daarna het die vrou ook gesterwe. 33 Die vrou nou, wie se vrou word sy met die opstanding? Al sewe het haar mos as vrou gehad." 34 Jesus sê vir hulle: "In hierdie wêreld trou die mense met mekaar, 35 maar dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood, trou daar nie meer nie. 36 Hulle kan ook nie meer sterwe nie; hulle is soos die engele. Hulle is kinders van God, omdat hulle uit die dood opgestaan het. 37 Dat die dooies opgewek word, het Moses ook aangedui waar hy in die gedeelte oor die doringbos praat van 'die Here, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob' 38 Hy is nie 'n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal." 39 Toe sê sommige van die skrifgeleerdes: "Meneer, u het goed geantwoord." 40 Hulle het nie meer gewaag om Hom 'n enkele vraag te stel nie. 41 Maar Jesus het vir hulle gevra: "Hoe kan hulle sê dat die Christus die seun van Dawid is? 42 Dawid sê tog self in die boek van die Psalms: Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand 43 totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het. 44 Dawid noem Hom dus 'Here'; hoe kan Hy dan sy seun wees?" 45 Terwyl die hele volk na Jesus luister, sê Hy vir sy dissipels: 46 "Pas op vir die skrifgeleerdes, wat graag met hulle deftige klere aan rondstap. Hulle hou van die begroetings op straat, die voorste banke in die sinagoges en die ereplekke by die maaltye. 47 Dit is hulle wat die huise van die weduwees inpalm en vir die skyn lang gebede opsê. Hulle sal baie swaar gestraf word."