Sunday 16 August 2009

Die Evangelie van Lukas - Hoofstuk 19

1 Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. 2 Daar was 'n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, 'n ryk man. 3 Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. 4 Hy hardloop toe vooruit en klim in 'n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. 5 Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: "Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan." 6 Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang. 7 Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: "Hy gaan by 'n sondige man tuis!" 8 Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: "Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug." 9 Daarop sê Jesus: "Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is 'n kind van Abraham. 10 Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is." 11 Terwyl die mense na Jesus geluister het, het Hy nog 'n gelykenis vertel, aangesien Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het die koninkryk van God sou nou enige oomblik kom. 12 Hy het gesê: "'n Man van adellike afkoms het na 'n ver land toe op reis gegaan om as koning aangestel te word en dan terug te kom. 13 Vooraf het hy tien van sy slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: 'Dryf handel daarmee totdat ek terugkom.' 14 "Sy landgenote het hom egter gehaat en 'n afvaardiging agterna gestuur om te sê: 'Ons wil nie hierdie man as koning hê nie.' Maar hy het tog die koningskap ontvang. 15 "Nadat hy teruggekom het, het hy die slawe aan wie hy die geld gegee het, na hom toe laat roep, sodat hy kon verneem wat hulle met die handeldryf verdien het. 16 Die eerste het vorentoe gekom en gesê: 'Meneer, u muntstuk het tien muntstukke opgelewer.' 17 Daarop antwoord hy: 'Mooi so, jy is 'n goeie slaaf. Omdat jy in 'n saak van min belang getrou was, kry jy nou die bestuur oor tien stede.' 18 "Toe kom die tweede slaaf en sê: 'Meneer, u muntstuk het vyf muntstukke opgelewer.' 19 Aan hierdie een sê hy: 'En jy kry die bestuur oor vyf stede.' 20 "Nog 'n ander het gekom en gesê: 'Meneer, hier is u muntstuk. Ek het dit in 'n doek gebêre. 21 Ek was bang vir u, want u is 'n harde man. U eis op wat u nie belê het nie, en oes wat u nie gesaai het nie.' 22 Toe sê hy vir hom: 'Met jou eie woorde sal ek jou veroordeel. Jy is 'n slegte slaaf! As jy geweet het ek is 'n harde man wat opeis wat ek nie belê het nie, en oes wat ek nie gesaai het nie, 23 waarom het jy dan nie my geld in die bank gesit nie? Dan sou ek dit by my terugkoms darem met rente kon getrek het.' 24 Daarop sê hy vir dié wat daar staan: 'Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het.' 25 "Hulle sê vir hom: 'Meneer, hy het dan al tien muntstukke.' Maar hy antwoord: 26 Ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 27 En daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek hulle koning moet wees nie, bring hulle en maak hulle hier voor my dood!" 28 Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop, op pad na Jerusalem toe. 29 Toe Hy naby Betfage en Betanië kom, teen die Olyfberg, stuur Hy twee van sy dissipels vooruit met die opdrag: 30 "Gaan na die dorpie toe daar reg voor julle. Net soos julle inkom, sal julle daar 'n jong donkie kry wat vasgemaak staan. Geen mens het nog ooit op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier. 31 En as iemand vir julle vra: 'Waarom maak julle hom los?' moet julle antwoord: Die Here het hom nodig." 32 Die twee wat gestuur is, gaan toe en kry alles net soos Hy vir hulle gesê het. 33 Terwyl hulle die donkie losmaak, vra sy eienaars vir hulle: "Waarom maak julle die donkie los?" 34 Hulle antwoord: "Die Here het hom nodig." 35 Toe bring hulle die donkie na Jesus toe. Daarna gooi hulle van hulle klere op sy rug en help Jesus opklim. 36 Terwyl Hy aanry, het hulle van hulle klere op die pad oopgegooi. 37 Toe Hy naby die stad kom, teen die afdraand van die Olyfberg, het die hele skare juigende volgelinge God uit volle bors begin prys oor al die wonderwerke wat hulle gesien het. 38 Hulle het gesing: "Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!" 39 'n Paar Fariseërs uit die skare sê toe vir Jesus: "Meneer, maak stil u volgelinge!" 40 Maar Hy antwoord: "Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep." 41 Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil 42 en gesê: "As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor. 43 Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. 44 En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie. 45 Jesus het na die tempel toe gegaan en die handelaars begin uitjaag. 46 Hy het vir hulle gesê: "Daar staan geskrywe: 'My huis sal 'n huis van gebed wees,' 47 Hy was elke dag in die tempel besig om die mense te leer. Intussen het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en ook die leiers van die volk, 'n plan gesoek om Hom dood te maak. 48 Hulle kon egter niks vind wat uitvoerbaar was nie, omdat die hele volk gretig na Hom geluister het.