Sunday 24 May 2009

Die Evangelie van Lukas, Hoofstuk 17, gelees deur Andre Walters

1

Jesus het vir sy dissipels gesê: "Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is.
2

So 'n mens kan eerder met 'n groot klip aan die nek in die see gegooi word as dat hy vir een van hierdie kleintjies 'n struikelblok word.
3

Wees dus self op julle hoede. "As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom.
4

Selfs as hy sewe maal op 'n dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou toe terugkom en sê: 'Ek is jammer,' moet jy hom vergewe."
5

Die apostels sê toe vir die Here: "Gee ons meer geloof."
6

Maar die Here antwoord: "As julle maar geloof so groot soos 'n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: 'Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,' en hy sou julle gehoorsaam.
7

"Sê nou een van julle het 'n slaaf wat ploeg of vee oppas. Sal hy vir die slaaf sê as hy van die veld af inkom: 'Kom eet eers gou'?
8

Natuurlik nie! Maar hy sal vir hom sê: 'Maak vir my iets klaar vir aandete. Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink. Daarna kan jy self eet en drink.'
9

'n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe?
10

So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen."
11

Op sy reis na Jerusalem toe het Jesus al met die grens tussen Samaria en Galilea langs gegaan.
12

Net toe Hy 'n sekere dorpie wou binnegaan, kom tien melaatse mans Hom tegemoet, maar hulle bly op 'n afstand staan
13

en roep hard: "Jesus, Here, ontferm U oor ons!"
14

Toe Hy hulle sien, sê Hy: "Gaan wys julle vir die priesters." Op pad daarheen het hulle gesond geword.
15

En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys.
16

Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was 'n Samaritaan.
17

Toe sê Jesus: "Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan?
18

Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers 'n Jood is nie?"
19

En vir hom sê Hy: "Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered."
20

Toe die Fariseërs vir Jesus vra wanneer die koninkryk van God dan kom, het Hy hulle geantwoord: "Die koms van die koninkryk van God kan nie uit voortekens bereken word nie.
21

Hulle sal nie kan sê: 'Kyk, hier is dit!' of: 'Daar is dit!' nie, want die koninkryk van God is hier by julle."
22

Daarna sê Hy vir die dissipels: "Daar sal dae kom wanneer julle daarna sal verlang om net een van die dae van die Seun van die mens te sien, maar julle sal dit nie sien nie. Hulle sal wel vir julle sê: 'Kyk, daar is Hy!' of: 'Kyk, hier is Hy!'
23

Maar moenie gaan nie en moenie agter hulle aanloop nie!
24

Soos die weerlig wat uitslaan, die hele lugruim van die een kant na die ander verlig, so sal die Seun van die mens kom as die dag van sy koms daar is.
25

Maar eers moet Hy baie ly en deur die mense van hierdie tyd verwerp word.
26

"Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens:
27

hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Toe kom die sondvloed, en dit het hulle almal uitgewis.
28

In die tyd van Lot het dit ook net so gegaan: hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink, gekoop en verkoop, geplant en gebou.
29

Maar op die dag toe Lot Sodom verlaat het, het vuur en swael uit die hemel gereën, en dit het almal uitgewis.
30

Net so sal dit ook gaan op die dag wanneer die Seun van die mens verskyn.
31

"Dan moet die man wat op die dakstoep sit, nie ingaan om sy besittings in die huis te gryp nie. Net so moet ook die man wat op die land is, nie omdraai huis toe nie.
32

Onthou wat met die vrou van Lot gebeur het!
33

Elkeen wat sy lewe probeer behou, sal dit verloor, maar elkeen wat dit verloor, sal dit behou.
34

Ek sê vir julle: Dan sal twee mense op een bed slaap, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.
35

Twee vroue sal koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word."
37

Toe vra hulle Hom: "Waar, Here?" Hy sê vir hulle: "Waar aas lê, daar sal aasvoëls ook bymekaarkom."