Wednesday 25 March 2009

Die Evangelie van Lukas, 16, gelees deur andre walters

Jesus het vir sy dissipels ook gesê: "'n Ryk man het 'n bestuurder in diens gehad, en dié is by hom aangekla omdat hy sy geld verkwis het.
2

Hy ontbied hom toe en sê vir hom: 'Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou bestuur van sake, want jy kan nie langer bestuurder wees nie.'
3

Die bestuurder dink toe by homself: wat moet ek nou doen, want my werkgewer neem die bestuurderskap van my af weg. Vir handearbeid sien ek nie kans nie; en om te bedel, skaam ek my.
4

Maar wag, nou weet ek wat ek sal doen sodat daar mense sal wees wat my in hulle huise sal ontvang as ek uit die bestuurderskap ontslaan is.
5

Toe roep hy die skuldenaars van sy werkgewer een vir een en vra vir die eerste: 'Hoeveel skuld jy my werkgewer?'
6

Hy antwoord: 'Honderd vate olyfolie.' Toe sê hy vir hom: 'Vat jou skuldbewys, gaan sit en skryf gou vyftig.'
7

Daarna vra hy vir 'n ander een: 'En jy, hoeveel skuld jy?' Hy antwoord: 'Honderd sak koring.' En hy sê vir hom: 'Vat jou skuldbewys en skryf tagtig.'
8

"Die werkgewer het die oneerlike bestuurder geprys vir die slim ding wat hy gedoen het. Die mense van hierdie wêreld tree onder mekaar slimmer op as die mense van die lig.
9

"En Ek sê vir julle: Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang.
10

"Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik.
11

As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou?
12

As julle met 'n ander man se goed nie betroubaar is nie, wie sal dan iets aan julle gee om as julle eie te besit?
13

"Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie."
14

Die Fariseërs was baie lief vir geld en toe hulle al hierdie dinge hoor, het hulle Hom beledigend uitgelag.
15

Hy sê toe vir hulle: "Julle is dié wat julle voor die mense as goeie mense voordoen, maar God ken julle harte. Wat deur die mense as belangrik beskou word, is 'n gruwel voor God.
16

"Tot op Johannes was dit net die wet en die profete. Van toe af word die koninkryk van God verkondig, en elkeen probeer so hard as hy kan om daar in te kom.
17

Tog is dit makliker vir die hemel en die aarde om te vergaan as dat een lettertjie van die wet verval.
18

"Elkeen wat van sy vrou skei en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk; en iemand wat met 'n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk."
19

"Daar was 'n ryk man wat duur en deftige klere gedra en elke dag feestelik en weelderig geleef het.
20

(16:20-16:21) En daar was 'n arm man met die naam Lasarus wat by die deur van die ryk man gelê het in die hoop dat hy van die oorskiet van die ryk man se tafel te ete sou kry. Hy was oortrek van die swere en selfs die honde het daaraan kom lek.
22

"Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe.
23

Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in die verte en vir Lasarus langs hom en hy roep:
24

'Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur.'
25

Maar Abraham sê: 'My kind, onthou dat jy in jou leeftyd altyd die goeie gekry het en Lasarus die slegte. Nou gaan dit hier goed met hom, maar jy word gepynig.
26

En buitendien is daar 'n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook nie na ons toe kan oorkom nie.'
27

Toe sê hy: 'Ek smeek u dan, vader, stuur hom tog na my pa se huis toe.
28

Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle dringend gaan waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.'
29

Maar Abraham sê: 'Hulle het die woorde van Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.'
30

Hy antwoord egter: 'Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dood na hulle toe gaan, sal hulle hulle bekeer.'
31

Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan."

Saturday 7 March 2009

Die Evangelie van Lukas, 15, gelees deur andre walters

Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister.
2

Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: "Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle."
3

Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis:
4

"Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry.
5

En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers.
6

As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: 'Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.'
7

Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie."
8

"Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een raak weg, steek nie 'n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?
9

En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: 'Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry.'
10

Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer."
11

Verder het Jesus gesê: "Daar was 'n man wat twee seuns gehad het.
12

Die jongste het vir sy pa gesê: 'Pa, gee my die deel van die besittings wat my toekom.' Hy het toe die goed tussen hulle verdeel.
13

"Nie lank daarna nie het die jongste seun alles tot geld gemaak en van die ouerhuis af na 'n ver land toe vertrek. Daar het hy sy geld verkwis deur losbandig te lewe.
14

Nadat hy alles deurgebring het, het daar 'n kwaai hongersnood in daardie land gekom, en ook hy het begin gebrek ly.
15

Hy het toe sommer by een van die mense van daardie land gaan bly, en dié het hom na sy plaas toe gestuur om varke op te pas.
16

Daar het hy gewens hy kon sy honger stil met die peule wat die varke eet, maar niemand het hom daarvan gegee nie.
17

"Toe kom hy tot inkeer en sê: 'My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger.
18

Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig!
19

Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners.'
20

En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan. "Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom.
21

Toe sê die seun vir hom: 'Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie.'
22

Maar sy pa roep sy werksmense: 'Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom 'n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan!
23

En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier!
24

Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.' Toe het hulle begin feesvier.
25

"Sy oudste seun was nog in die veld. Toe hy terugkom en naby die huis was, hoor hy die musiek en die singery.
26

Hy roep toe een van die bediendes nader en vra hom wat aan die gang is.
27

Die bediende antwoord: 'U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom behoue en gesond teruggekry het.'
28

"Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom;
29

maar hy antwoord: 'Kyk, al die jare werk ek soos 'n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek 'n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers 'n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie.
30

Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!'
31

"Toe sê die pa vir hom: Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune.
32

Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry."