Tuesday 23 December 2008

Die Evangelie van Lukas in Afrikaans - Hoofstuk 8


Luk 8:1 En daarna het Hy die een stad en dorp ná die ander deurgereis en gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig; en die twaalf was saam met Hom,

Luk 8:2 ook sekere vroue wat genees was van bose geeste en siektes: Maria wat Magdaléna genoem word, uit wie sewe duiwels uitgegaan het,


Luk 8:3 en Johanna, die vrou van Gusa, ‘n bestuurder van Herodes, en Susanna en baie ander wat Hom almal met hulle besittings gedien het.


Luk 8:4 En toe daar ‘n groot menigte vergader, en die wat uit die verskillende stede by Hom aangesluit het, sê Hy aan hulle deur ‘n gelykenis:


Luk 8:5 ‘n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai; en toe hy saai, val ‘n deel langs die pad en is vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet.


Luk 8:6 En ‘n ander deel het op die rots geval; en nadat dit opgeskiet het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie.


Luk 8:7 En ‘n ander deel het tussen die dorings in geval; en die dorings het daarmee saamgegroei en dit verstik.


Luk 8:8 En ‘n ander deel het in die goeie grond geval en gegroei en honderdvoudige vrug opgelewer. Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!


Luk 8:9 En sy dissipels het Hom gevra en gesê: Wat beteken hierdie gelykenis tog?


Luk 8:10 En Hy antwoord: Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken; maar aan die ander deur gelykenisse, sodat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie verstaan nie.


Luk 8:11 Dit is dan die gelykenis: Die saad is die woord van God.


Luk 8:12 Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie.


Luk 8:13 En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ‘n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af.


Luk 8:14 En wat in die dorings geval het—dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie.


Luk 8:15 En die wat in die goeie grond val—dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ‘n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.


Luk 8:16 En niemand steek ‘n lamp op en maak dit met iets toe of sit dit onder ‘n bed nie; maar hy sit dit op ‘n staander, sodat die wat inkom, die lig kan sien.


Luk 8:17 Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en in die lig sal kom nie.


Luk 8:18 Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy dink dat hy het.


Luk 8:19 En sy moeder en broers het na Hom gekom, en weens die skare kon hulle Hom nie bereik nie.


Luk 8:20 Toe bring hulle Hom die boodskap en sê: U moeder en u broers staan buite en wil U sien.


Luk 8:21 Maar Hy antwoord en sê vir hulle: My moeder en my broers is die wat die woord van God hoor en dit doen.


Luk 8:22 En op een van daardie dae het Hy en sy dissipels in ‘n skuit gegaan; en Hy het vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die oorkant van die see. En hulle het weggevaar


Luk 8:23 En terwyl hulle seil, raak Hy aan die slaap. Toe kom daar ‘n stormwind op die see af en die skuit het begin vol word, en hulle was in gevaar.


Luk 8:24 En hulle het na Hom gegaan en Hom wakker gemaak en gesê: Meester, Meester, ons vergaan! Hy staan toe op en bestraf die wind en die watergolwe, en hulle het bedaar en daar het ‘n stilte gekom.


Luk 8:25 En Hy sê vir hulle: Waar is julle geloof? Maar hulle was bang en verwonderd en het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat Hy selfs die winde en die water gebied en hulle Hom gehoorsaam is!


Luk 8:26 En hulle het geseil na die land van die Gadaréners, wat reg anderkant Galiléa is.


Luk 8:27 En toe Hy aan wal uitklim, kom ‘n sekere man uit die stad Hom tegemoet, wat vir ‘n geruime tyd van duiwels besete was en geen klere gedra het nie; hy het ook nie in ‘n huis gewoon nie, maar in die grafte.


Luk 8:28 En toe hy Jesus sien, skreeu hy uit en val voor Hom neer en sê met ‘n groot stem: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek bid U, moet my nie pynig nie—


Luk 8:29 want Hy het aan die onreine gees bevel gegee om uit die man uit te gaan. Want baiekeer het hy hom saamgesleep; en hulle het hom gebind met kettings en voetboeie om oor hom wag te hou; maar hy het die boeie uitmekaar geruk, en die duiwel het hom in die woestyn gedrywe.


Luk 8:30 Daarop vra Jesus hom en sê: Wat is jou naam? En hy antwoord: Legio—want baie duiwels het in hom ingevaar.


Luk 8:31 En hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle nie sou beveel om in die onderwêreld af te vaar nie.


Luk 8:32 En daar het ‘n groot trop varke op die berg gewei. Toe smeek hulle Hom dat Hy hulle sou toelaat om in dié varke in te vaar. En Hy het hulle toegelaat.


Luk 8:33 Daarop gaan die duiwels uit die man uit en vaar in die varke in, en die trop het van die krans af in die see gestorm en verdrink.


Luk 8:34 En toe die wagters sien wat gebeur het, het hulle gevlug en dit in die stad en in die buitewyke gaan vertel.


Luk 8:35 Daarop het hulle uitgegaan om te sien wat gebeur het; en hulle het by Jesus gekom en die man gevind uit wie die duiwels uitgevaar het, terwyl hy aan die voete van Jesus sit, gekleed en by sy verstand. En hulle het gevrees.


Luk 8:36 En die wat ooggetuies was, het ook aan hulle vertel hoe die besetene genees is.


Luk 8:37 En die hele menigte van die omtrek van die Gadaréners het Hom gevra om van hulle weg te gaan, omdat hulle deur ‘n groot vrees bevang was. Toe het Hy in die skuit geklim en teruggegaan.


Luk 8:38 En die man uit wie die duiwels uitgevaar het, het Hom gebid om by Hom te kan bly. Maar Jesus het hom laat gaan en gesê:


Luk 8:39 Gaan terug na jou huis en vertel watter groot dinge God aan jou gedoen het. En hy het gegaan en deur die hele stad verkondig watter groot dinge Jesus aan hom gedoen het.


Luk 8:40 En toe Jesus terugkom, het die skare Hom verwelkom; want almal was Hom te wagte.


Luk 8:41 En daar kom ‘n man wie se naam Jaïrus was, en hy was ‘n owerste van die sinagoge; en hy val voor die voete van Jesus neer en smeek Hom om na sy huis te kom;


Luk 8:42 want sy enigste dogter van omtrent twaalf jaar het op sterwe gelê. En terwyl Hy gaan, het die skare Hom verdring.


Luk 8:43 En ‘n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, en wat haar hele vermoë aan geneeshere uitgegee het en deur niemand gesond gemaak kon word nie,


Luk 8:44 het van agter af gekom en die soom van sy kleed aangeraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou.


Luk 8:45 Daarop sê Jesus: Wie is dit wat My aangeraak het? En toe almal dit ontken, sê Petrus en die wat by hom was: Meester, die skare druk en verdring U, en U sê: Wie is dit wat My aangeraak het?


Luk 8:46 Maar Jesus antwoord: Iemand het My aangeraak, want Ek het gemerk dat krag van My uitgegaan het.


Luk 8:47 En toe die vrou sien dat sy nie verborge gebly het nie, kom sy bewende en val voor Hom neer en vertel Hom voor die hele volk om watter rede sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het.


Luk 8:48 En Hy sê vir haar: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.


Luk 8:49 Terwyl Hy nog spreek, kom daar iemand van die owerste van die sinagoge se huis af en sê vir hom: U dogter is dood, moenie die Meester lastig val nie.


Luk 8:50 Maar toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom en sê: Moenie vrees nie. Glo net, en sy sal gered word.


Luk 8:51 En toe Hy in die huis kom, het Hy niemand toegelaat om in te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en Johannes en die vader en die moeder van die meisie.


Luk 8:52 En almal het gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Hy sê: Moenie huil nie; sy is nie dood nie, maar slaap.


Luk 8:53 En hulle het Hom uitgelag, want hulle het geweet dat sy dood was.


Luk 8:54 En toe Hy almal na buite uitgejaag het, gryp Hy haar hand en roep uit en sê: Dogtertjie, staan op!


Luk 8:55 En haar gees het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan; en Hy het beveel dat hulle haar iets te ete moes gee.


Luk 8:56 En haar ouers was verbaas, maar Hy het hulle bevel gegee om aan niemand te sê wat gebeur het

Sunday 7 December 2008

Die Evangelie van Lukas in Afrikaans - Hoofstuk 7


Luk 7:1 En nadat Hy voor die ore van die volk al sy woorde beëindig het, het Hy in Kapérnaüm ingegaan.

Luk 7:2 En die dienskneg van ‘n sekere hoofman oor honderd, wat vir hom baie werd was, was ongesteld en het op sterwe gelê.

Luk 7:3 Toe hy dan van Jesus hoor, het hy ouderlinge van die Jode na Hom gestuur met die versoek aan Hom dat Hy moes kom en sy dienskneg gesond maak.

Luk 7:4 En toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dringend gesmeek en gesê: Hy is dit werd dat U dit vir hom doen;

Luk 7:5 want hy het ons volk lief en het self die sinagoge vir ons gebou.

Luk 7:6 En Jesus het saam met hulle gegaan; maar toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, stuur die hoofman oor honderd vriende na Hom om vir Hom te sê: Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie.

Luk 7:7 Daarom het ek my ook nie waardig geag om na U te gaan nie; sê dit maar met ‘n woord, en my kneg sal gesond word.

Luk 7:8 Want ek is ook ‘n man wat aan gesag onderworpe is, en ek het soldate onder my; en vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir ‘n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit.

Luk 7:9 Toe Jesus dit hoor, was Hy oor hom verwonderd, en Hy draai Hom om en sê vir die skare wat Hom volg: Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so ‘n groot geloof nie gevind nie.

Luk 7:10 En toe die wat gestuur was, teruggaan na die huis, vind hulle die siek dienskneg gesond.

Luk 7:11 En die dag daarna was Hy op weg na ‘n stad met die naam van Nain; en baie van sy dissipels en ‘n groot menigte het saam met Hom gegaan.

Luk 7:12 En toe Hy naby die poort van die stad kom, word daar net ‘n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was ‘n weduwee; en ‘n groot menigte van die stad was by haar.

Luk 7:13 En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel en vir haar gesê: Moenie ween nie!

Luk 7:14 En Hy het nader gegaan en die baar aangeraak. Daarop staan die draers stil. En Hy sê: Jongman, Ek sê vir jou, staan op!

Luk 7:15 En die dooie het regop gaan sit en begin praat; en Hy het hom aan sy moeder teruggegee.

Luk 7:16 En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: ‘n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek.

Luk 7:17 En hierdie woord aangaande Hom het uitgegaan in die hele Judéa en in die hele omtrek.

Luk 7:18 En die dissipels van Johannes het hom van al hierdie dinge berig gebring.

Luk 7:19 En Johannes het sekere twee van sy dissipels na hom geroep en hulle na Jesus gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?

Luk 7:20 En toe die manne by Hom kom, sê hulle: Johannes die Doper het ons na U gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?

Luk 7:21 En in dieselfde uur het Hy baie mense genees van siektes en kwale en bose geeste, en aan baie blindes die gesig geskenk.

Luk 7:22 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig.

Luk 7:23 En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.

Luk 7:24 En nadat die boodskappers van Johannes weggegaan het, begin Hy vir die skare aangaande Johannes te sê: Wat het julle uitgegaan in die woestyn om te aanskou? ‘n Riet wat deur die wind beweeg word?

Luk 7:25 Maar wat het julle uitgegaan om te sien? ‘n Man met sagte klere aan? Kyk, die wat pragtige klere dra en in weelde lewe, is in die paleise.

Luk 7:26 Maar wat het julle uitgegaan om te sien? ‘n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, nog baie meer as ‘n profeet!

Luk 7:27 Dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak.

Luk 7:28 Want Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van God is groter as hy.

Luk 7:29 En toe die hele volk en die tollenaars dit hoor, het hulle God geregverdig deur hulle te laat doop met die doop van Johannes.

Luk 7:30 Maar die Fariseërs en die wetgeleerdes het die raad van God aangaande hulle verwerp deur hulle nie deur hom te laat doop nie.

Luk 7:31 Toe sê die Here: Waarmee sal Ek dan die mense van hierdie geslag vergelyk, en waaraan is hulle gelyk?

Luk 7:32 Hulle is net soos kinders wat op die mark sit en na mekaar roep en sê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het vir julle ‘n klaaglied gesing, en julle het nie gehuil nie.

Luk 7:33 Want Johannes die Doper het gekom en het nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: Hy het ‘n duiwel.

Luk 7:34 Die Seun van die mens het gekom en Hy eet en drink, en julle sê: Daar is ‘n mens wat ‘n vraat en ‘n wynsuiper is, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.

Luk 7:35 Maar die wysheid is geregverdig deur al sy kinders.

Luk 7:36 En een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te eet; en Hy het in die huis van die Fariseër gekom en aan tafel gegaan.

Luk 7:37 En toe ‘n vrou in die stad, wat ‘n sondares was, verneem dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was, het sy ‘n albaste fles met salf gebring

Luk 7:38 en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf.

Luk 7:39 Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: Hy, as Hy ‘n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is ‘n sondares.

Luk 7:40 En Jesus antwoord en sê vir hom: Simon, Ek het iets om aan jou te sê. En hy antwoord: Meester, spreek.

Luk 7:41 Hy sê toe: ‘n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyf honderd pennings geskuld en die ander een vyftig;

Luk 7:42 en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan altwee geskenk. Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê?

Luk 7:43 En Simon antwoord en sê: Ek veronderstel dié een aan wie hy die meeste geskenk het. En Hy antwoord hom: Jy het reg geoordeel.

Luk 7:44 Daarop draai Hy om na die vrou en sê vir Simon: Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom—water het jy nie vir my voete gegee nie; maar sy het met haar trane my voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog.

Luk 7:45 ‘n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie.

Luk 7:46 Met olie het jy my hoof nie gesalf nie; maar sy het my voete met salf gesalf.

Luk 7:47 Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.

Luk 7:48 En Hy sê vir haar: Jou sondes is vergewe.

Luk 7:49 Toe begin die wat aan tafel was, by hulleself te sê: Wie is hierdie man wat selfs die sondes vergewe?

Luk 7:50 En Hy sê vir die vrou: Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.