Sunday, 16 August 2009

Die Evangelie van Lukas - Hoofstuk 19

1 Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. 2 Daar was 'n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, 'n ryk man. 3 Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. 4 Hy hardloop toe vooruit en klim in 'n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. 5 Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: "Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan." 6 Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang. 7 Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: "Hy gaan by 'n sondige man tuis!" 8 Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: "Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug." 9 Daarop sê Jesus: "Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is 'n kind van Abraham. 10 Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is." 11 Terwyl die mense na Jesus geluister het, het Hy nog 'n gelykenis vertel, aangesien Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het die koninkryk van God sou nou enige oomblik kom. 12 Hy het gesê: "'n Man van adellike afkoms het na 'n ver land toe op reis gegaan om as koning aangestel te word en dan terug te kom. 13 Vooraf het hy tien van sy slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: 'Dryf handel daarmee totdat ek terugkom.' 14 "Sy landgenote het hom egter gehaat en 'n afvaardiging agterna gestuur om te sê: 'Ons wil nie hierdie man as koning hê nie.' Maar hy het tog die koningskap ontvang. 15 "Nadat hy teruggekom het, het hy die slawe aan wie hy die geld gegee het, na hom toe laat roep, sodat hy kon verneem wat hulle met die handeldryf verdien het. 16 Die eerste het vorentoe gekom en gesê: 'Meneer, u muntstuk het tien muntstukke opgelewer.' 17 Daarop antwoord hy: 'Mooi so, jy is 'n goeie slaaf. Omdat jy in 'n saak van min belang getrou was, kry jy nou die bestuur oor tien stede.' 18 "Toe kom die tweede slaaf en sê: 'Meneer, u muntstuk het vyf muntstukke opgelewer.' 19 Aan hierdie een sê hy: 'En jy kry die bestuur oor vyf stede.' 20 "Nog 'n ander het gekom en gesê: 'Meneer, hier is u muntstuk. Ek het dit in 'n doek gebêre. 21 Ek was bang vir u, want u is 'n harde man. U eis op wat u nie belê het nie, en oes wat u nie gesaai het nie.' 22 Toe sê hy vir hom: 'Met jou eie woorde sal ek jou veroordeel. Jy is 'n slegte slaaf! As jy geweet het ek is 'n harde man wat opeis wat ek nie belê het nie, en oes wat ek nie gesaai het nie, 23 waarom het jy dan nie my geld in die bank gesit nie? Dan sou ek dit by my terugkoms darem met rente kon getrek het.' 24 Daarop sê hy vir dié wat daar staan: 'Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het.' 25 "Hulle sê vir hom: 'Meneer, hy het dan al tien muntstukke.' Maar hy antwoord: 26 Ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 27 En daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek hulle koning moet wees nie, bring hulle en maak hulle hier voor my dood!" 28 Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop, op pad na Jerusalem toe. 29 Toe Hy naby Betfage en Betanië kom, teen die Olyfberg, stuur Hy twee van sy dissipels vooruit met die opdrag: 30 "Gaan na die dorpie toe daar reg voor julle. Net soos julle inkom, sal julle daar 'n jong donkie kry wat vasgemaak staan. Geen mens het nog ooit op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier. 31 En as iemand vir julle vra: 'Waarom maak julle hom los?' moet julle antwoord: Die Here het hom nodig." 32 Die twee wat gestuur is, gaan toe en kry alles net soos Hy vir hulle gesê het. 33 Terwyl hulle die donkie losmaak, vra sy eienaars vir hulle: "Waarom maak julle die donkie los?" 34 Hulle antwoord: "Die Here het hom nodig." 35 Toe bring hulle die donkie na Jesus toe. Daarna gooi hulle van hulle klere op sy rug en help Jesus opklim. 36 Terwyl Hy aanry, het hulle van hulle klere op die pad oopgegooi. 37 Toe Hy naby die stad kom, teen die afdraand van die Olyfberg, het die hele skare juigende volgelinge God uit volle bors begin prys oor al die wonderwerke wat hulle gesien het. 38 Hulle het gesing: "Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!" 39 'n Paar Fariseërs uit die skare sê toe vir Jesus: "Meneer, maak stil u volgelinge!" 40 Maar Hy antwoord: "Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep." 41 Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil 42 en gesê: "As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor. 43 Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. 44 En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie. 45 Jesus het na die tempel toe gegaan en die handelaars begin uitjaag. 46 Hy het vir hulle gesê: "Daar staan geskrywe: 'My huis sal 'n huis van gebed wees,' 47 Hy was elke dag in die tempel besig om die mense te leer. Intussen het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en ook die leiers van die volk, 'n plan gesoek om Hom dood te maak. 48 Hulle kon egter niks vind wat uitvoerbaar was nie, omdat die hele volk gretig na Hom geluister het.

Wednesday, 17 June 2009

Die Evangelie van Lukas - Hoofstuk 18

Jesus het vir hulle 'n gelykenis vertel om duidelik te maak dat 'n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.
2

Hy het gesê: "In 'n sekere stad was daar 'n regter wat geen eerbied vir God of agting vir 'n mens gehad het nie.
3

En in dieselfde stad het 'n weduwee gewoon wat hom herhaaldelik kom vra het: 'Doen aan my reg in my saak teen my teenparty.'
4

'n Tyd lank wou hy nie, maar later het hy vir homself gesê: Vir God het ek wel geen eerbied nie, en aan 'n mens steur ek my nie,
5

maar aangesien hierdie weduwee so aanhou om my lastig te val, sal ek haar in haar regsaak help, anders kom klap sy my op die ou end ook nog."
6

Toe sê die Here: "Hoor wat sê die onregverdige regter.
7

Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag?
8

Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook! "Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?"
9

Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel:
10

"Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was 'n Fariseër en die ander een 'n tollenaar.
11

Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: 'O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie.
12

Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste.'
13

"Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: 'O God, wees my, sondaar, genadig.'
14

"Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word."
15

Die mense het ook kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense daaroor geraas.
16

Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: "Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.
17

Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie."
18

'n Man van aansien het aan Jesus die vraag gestel: "Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?"
19

Jesus het geantwoord: "Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen.
20

Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis gee nie, eer jou vader en moeder."
21

Maar die man antwoord: "Al hierdie dinge het ek van my kinderdae af onderhou."
22

Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hom: "Een ding kom jy nog kort: gaan verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My."
23

Toe die man dit hoor, was hy diep teleurgesteld, want hy was baie ryk.
24

Toe Jesus sien dat hy teleurgesteld is, sê Hy: "Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom.
25

Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom."
26

Dié wat dit gehoor het, sê toe: "Maar wie kan dan gered word?"
27

Daarop antwoord Hy: "Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik."
28

Toe sê Petrus: "Kyk, óns het van ons besittings afgesien en U gevolg."
29

En Jesus antwoord: "Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van die koninkryk van God afgesien het van huis of vrou of broers of ouers of kinders nie,
30

of hy ontvang in hierdie tyd al baiekeer soveel terug, en in die tyd wat kom, die ewige lewe."
31

Jesus het die twaalf opsy geneem en vir hulle gesê: "Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe, en alles wat die profete oor die Seun van die mens geskryf het, sal daar bewaarheid word.
32

Hy sal uitgelewer word aan die heidene; Hy sal bespot en beledig word; hulle sal op Hom spoeg,
33

Hom gesel en Hom daarna doodmaak. En op die derde dag sal Hy uit die dood opstaan."
34

Maar van hierdie dinge het hulle niks begryp nie. Die woorde was vir hulle duister, en hulle het nie verstaan waaroor Hy praat nie.
35

Jesus het naby Jerigo gekom. Toe 'n blinde man wat daar langs die pad sit en bedel,
36

die groot menigte mense hoor verbyloop, vra hy wat aan die gang is.
37

Hulle vertel hom toe: "Jesus van Nasaret gaan hier verby."
38

Toe roep hy uit: "Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!"
39

Die mense wat voor geloop het, het hom beveel om stil te bly, maar hy het al hoe harder uitgeroep: "Seun van Dawid, ontferm U oor my!"
40

Jesus gaan toe staan en gee bevel dat hy na Hom toe gebring moet word. Toe hy naby kom, vra Jesus vir hom:
41

"Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?" En hy antwoord: "Here, dat ek kan sien."
42

Jesus sê vir hom: "Goed, jy kan sien! Jou geloof het jou gered."
43

En onmiddellik kon hy sien, en hy het Jesus gevolg en God geprys. Ook al die mense wat dit gesien het, het aan God die eer gegee.

Sunday, 24 May 2009

Die Evangelie van Lukas, Hoofstuk 17, gelees deur Andre Walters

1

Jesus het vir sy dissipels gesê: "Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is.
2

So 'n mens kan eerder met 'n groot klip aan die nek in die see gegooi word as dat hy vir een van hierdie kleintjies 'n struikelblok word.
3

Wees dus self op julle hoede. "As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom.
4

Selfs as hy sewe maal op 'n dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou toe terugkom en sê: 'Ek is jammer,' moet jy hom vergewe."
5

Die apostels sê toe vir die Here: "Gee ons meer geloof."
6

Maar die Here antwoord: "As julle maar geloof so groot soos 'n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: 'Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,' en hy sou julle gehoorsaam.
7

"Sê nou een van julle het 'n slaaf wat ploeg of vee oppas. Sal hy vir die slaaf sê as hy van die veld af inkom: 'Kom eet eers gou'?
8

Natuurlik nie! Maar hy sal vir hom sê: 'Maak vir my iets klaar vir aandete. Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink. Daarna kan jy self eet en drink.'
9

'n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe?
10

So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen."
11

Op sy reis na Jerusalem toe het Jesus al met die grens tussen Samaria en Galilea langs gegaan.
12

Net toe Hy 'n sekere dorpie wou binnegaan, kom tien melaatse mans Hom tegemoet, maar hulle bly op 'n afstand staan
13

en roep hard: "Jesus, Here, ontferm U oor ons!"
14

Toe Hy hulle sien, sê Hy: "Gaan wys julle vir die priesters." Op pad daarheen het hulle gesond geword.
15

En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys.
16

Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was 'n Samaritaan.
17

Toe sê Jesus: "Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan?
18

Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers 'n Jood is nie?"
19

En vir hom sê Hy: "Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered."
20

Toe die Fariseërs vir Jesus vra wanneer die koninkryk van God dan kom, het Hy hulle geantwoord: "Die koms van die koninkryk van God kan nie uit voortekens bereken word nie.
21

Hulle sal nie kan sê: 'Kyk, hier is dit!' of: 'Daar is dit!' nie, want die koninkryk van God is hier by julle."
22

Daarna sê Hy vir die dissipels: "Daar sal dae kom wanneer julle daarna sal verlang om net een van die dae van die Seun van die mens te sien, maar julle sal dit nie sien nie. Hulle sal wel vir julle sê: 'Kyk, daar is Hy!' of: 'Kyk, hier is Hy!'
23

Maar moenie gaan nie en moenie agter hulle aanloop nie!
24

Soos die weerlig wat uitslaan, die hele lugruim van die een kant na die ander verlig, so sal die Seun van die mens kom as die dag van sy koms daar is.
25

Maar eers moet Hy baie ly en deur die mense van hierdie tyd verwerp word.
26

"Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens:
27

hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Toe kom die sondvloed, en dit het hulle almal uitgewis.
28

In die tyd van Lot het dit ook net so gegaan: hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink, gekoop en verkoop, geplant en gebou.
29

Maar op die dag toe Lot Sodom verlaat het, het vuur en swael uit die hemel gereën, en dit het almal uitgewis.
30

Net so sal dit ook gaan op die dag wanneer die Seun van die mens verskyn.
31

"Dan moet die man wat op die dakstoep sit, nie ingaan om sy besittings in die huis te gryp nie. Net so moet ook die man wat op die land is, nie omdraai huis toe nie.
32

Onthou wat met die vrou van Lot gebeur het!
33

Elkeen wat sy lewe probeer behou, sal dit verloor, maar elkeen wat dit verloor, sal dit behou.
34

Ek sê vir julle: Dan sal twee mense op een bed slaap, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.
35

Twee vroue sal koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word."
37

Toe vra hulle Hom: "Waar, Here?" Hy sê vir hulle: "Waar aas lê, daar sal aasvoëls ook bymekaarkom."

Wednesday, 25 March 2009

Die Evangelie van Lukas, 16, gelees deur andre walters

Jesus het vir sy dissipels ook gesê: "'n Ryk man het 'n bestuurder in diens gehad, en dié is by hom aangekla omdat hy sy geld verkwis het.
2

Hy ontbied hom toe en sê vir hom: 'Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou bestuur van sake, want jy kan nie langer bestuurder wees nie.'
3

Die bestuurder dink toe by homself: wat moet ek nou doen, want my werkgewer neem die bestuurderskap van my af weg. Vir handearbeid sien ek nie kans nie; en om te bedel, skaam ek my.
4

Maar wag, nou weet ek wat ek sal doen sodat daar mense sal wees wat my in hulle huise sal ontvang as ek uit die bestuurderskap ontslaan is.
5

Toe roep hy die skuldenaars van sy werkgewer een vir een en vra vir die eerste: 'Hoeveel skuld jy my werkgewer?'
6

Hy antwoord: 'Honderd vate olyfolie.' Toe sê hy vir hom: 'Vat jou skuldbewys, gaan sit en skryf gou vyftig.'
7

Daarna vra hy vir 'n ander een: 'En jy, hoeveel skuld jy?' Hy antwoord: 'Honderd sak koring.' En hy sê vir hom: 'Vat jou skuldbewys en skryf tagtig.'
8

"Die werkgewer het die oneerlike bestuurder geprys vir die slim ding wat hy gedoen het. Die mense van hierdie wêreld tree onder mekaar slimmer op as die mense van die lig.
9

"En Ek sê vir julle: Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang.
10

"Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik.
11

As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou?
12

As julle met 'n ander man se goed nie betroubaar is nie, wie sal dan iets aan julle gee om as julle eie te besit?
13

"Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie."
14

Die Fariseërs was baie lief vir geld en toe hulle al hierdie dinge hoor, het hulle Hom beledigend uitgelag.
15

Hy sê toe vir hulle: "Julle is dié wat julle voor die mense as goeie mense voordoen, maar God ken julle harte. Wat deur die mense as belangrik beskou word, is 'n gruwel voor God.
16

"Tot op Johannes was dit net die wet en die profete. Van toe af word die koninkryk van God verkondig, en elkeen probeer so hard as hy kan om daar in te kom.
17

Tog is dit makliker vir die hemel en die aarde om te vergaan as dat een lettertjie van die wet verval.
18

"Elkeen wat van sy vrou skei en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk; en iemand wat met 'n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk."
19

"Daar was 'n ryk man wat duur en deftige klere gedra en elke dag feestelik en weelderig geleef het.
20

(16:20-16:21) En daar was 'n arm man met die naam Lasarus wat by die deur van die ryk man gelê het in die hoop dat hy van die oorskiet van die ryk man se tafel te ete sou kry. Hy was oortrek van die swere en selfs die honde het daaraan kom lek.
22

"Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe.
23

Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in die verte en vir Lasarus langs hom en hy roep:
24

'Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur.'
25

Maar Abraham sê: 'My kind, onthou dat jy in jou leeftyd altyd die goeie gekry het en Lasarus die slegte. Nou gaan dit hier goed met hom, maar jy word gepynig.
26

En buitendien is daar 'n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook nie na ons toe kan oorkom nie.'
27

Toe sê hy: 'Ek smeek u dan, vader, stuur hom tog na my pa se huis toe.
28

Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle dringend gaan waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.'
29

Maar Abraham sê: 'Hulle het die woorde van Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.'
30

Hy antwoord egter: 'Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dood na hulle toe gaan, sal hulle hulle bekeer.'
31

Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan."

Saturday, 7 March 2009

Die Evangelie van Lukas, 15, gelees deur andre walters

Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister.
2

Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: "Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle."
3

Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis:
4

"Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry.
5

En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers.
6

As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: 'Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.'
7

Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie."
8

"Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een raak weg, steek nie 'n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?
9

En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: 'Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry.'
10

Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer."
11

Verder het Jesus gesê: "Daar was 'n man wat twee seuns gehad het.
12

Die jongste het vir sy pa gesê: 'Pa, gee my die deel van die besittings wat my toekom.' Hy het toe die goed tussen hulle verdeel.
13

"Nie lank daarna nie het die jongste seun alles tot geld gemaak en van die ouerhuis af na 'n ver land toe vertrek. Daar het hy sy geld verkwis deur losbandig te lewe.
14

Nadat hy alles deurgebring het, het daar 'n kwaai hongersnood in daardie land gekom, en ook hy het begin gebrek ly.
15

Hy het toe sommer by een van die mense van daardie land gaan bly, en dié het hom na sy plaas toe gestuur om varke op te pas.
16

Daar het hy gewens hy kon sy honger stil met die peule wat die varke eet, maar niemand het hom daarvan gegee nie.
17

"Toe kom hy tot inkeer en sê: 'My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger.
18

Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig!
19

Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners.'
20

En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan. "Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom.
21

Toe sê die seun vir hom: 'Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie.'
22

Maar sy pa roep sy werksmense: 'Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom 'n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan!
23

En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier!
24

Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.' Toe het hulle begin feesvier.
25

"Sy oudste seun was nog in die veld. Toe hy terugkom en naby die huis was, hoor hy die musiek en die singery.
26

Hy roep toe een van die bediendes nader en vra hom wat aan die gang is.
27

Die bediende antwoord: 'U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom behoue en gesond teruggekry het.'
28

"Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom;
29

maar hy antwoord: 'Kyk, al die jare werk ek soos 'n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek 'n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers 'n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie.
30

Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!'
31

"Toe sê die pa vir hom: Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune.
32

Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry."

Saturday, 28 February 2009

Die Evangelie van Lukas, 14, gelees deur andre walters

Op 'n sabbatdag toe Jesus na die huis van 'n vooraanstaande Fariseër toe gegaan het om daar te eet, het hulle Hom fyn dopgehou.
2

Reg voor Hom was daar 'n man wat aan water gely het.
3

Jesus praat toe met die wetgeleerdes en Fariseërs en vra: "Mag 'n mens iemand op die sabbatdag gesond maak of nie?"
4

Maar hulle het stilgebly. Toe trek Jesus die sieke nader, maak hom gesond en laat hom gaan.
5

Daarna sê Hy vir hulle: "Sê nou 'n seun of 'n bees van een van julle val in 'n put, sal hy hom nie dadelik uithaal nie, al is dit op 'n sabbatdag?"
6

Hulle kon daar niks op antwoord nie.
7

Toe Jesus merk hoe hulle die voorste plekke aan tafel uitsoek, vertel Hy aan die genooides die volgende gelykenis:
8

"As iemand jou na 'n bruilof toe uitnooi, moet jy nie sommer op die voorste plek gaan sit nie. Dit kan net wees dat die gasheer iemand uitgenooi het wat belangriker is as jy.
9

Dan sal hy wat julle albei uitgenooi het, na jou toe kom en sê: 'Gee bietjie die plek af vir hierdie man.' Jy sal dan tot jou skande die agterste plek moet gaan inneem.
10

Maar as jy uitgenooi is, gaan sit liewer op die agterste plek. Wanneer die gasheer kom, sal hy vir jou kan sê: 'Vriend, kom sit hier voor.' Dan sal jy in die agting van al die gaste styg.
11

Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word."
12

Hy het ook vir die gasheer gesê: "As jy in die middag of in die aand 'n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie.
13

Nee, as jy 'n feesmaal gee, nooi dan die armes, kreupeles, verlamdes en blindes.
14

Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het."
15

Een van dié wat saam aan tafel was, het dit gehoor en vir Hom gesê: "Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem."
16

Toe sê Jesus vir hom: "Daar was 'n man wat 'n groot maaltyd gegee het en baie mense uitgenooi het.
17

Toe die maaltyd gereed was, stuur hy sy slaaf om vir die genooides te sê: 'Kom, die maaltyd staan klaar.'
18

Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak. Die eerste sê vir hom: 'Ek het 'n stuk grond gekoop en dit is noodsaaklik dat ek uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my asseblief.'
19

'n Ander een sê: 'Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u verskoon my asseblief.'
20

Nog 'n ander een sê: 'Ek is pas getroud, daarom kan ek nie kom nie.'
2 1

"Die slaaf kom toe terug en vertel dit alles aan sy eienaar. Toe word die man kwaad en sê vir sy slaaf: 'Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen.'
22

Later kom die slaaf sê: 'Meneer, u opdrag is uitgevoer, en daar is nog plek.'
23

Toe sê die man vir die slaaf: 'Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word.
24

Dit verseker ek julle: Nie een van die mense wat genooi is, sal sy mond aan my kos sit nie.' "
25

'n Groot menigte het saam met Jesus gereis Hy draai toe om en sê vir hulle:
26

"As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe.
27

Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie.
28

"Wie van julle wat 'n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie?
29

Anders, as hy die fondament gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom die spot begin dryf.
30

Hulle sal sê: 'Hier is 'n man wat begin bou het maar nie kon klaar maak nie.'
31

"Of watter koning wat met 'n ander koning in 'n oorlog betrokke raak, sal nie eers gaan sit en oorweeg of hy met sy tien duisend man sterk genoeg is om die ander een teen te staan wat met twintig duisend teen hom optrek nie?
32

Anders stuur hy 'n afvaardiging om vredesvoorwaardes te vra terwyl die ander een nog ver is.
33

"So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie."
34

"Sout is 'n goeie ding. Maar as sout verslaan het, waarmee sal dit weer sout gemaak word?
35

Dit is nie eers bruikbaar vir die grond of vir die mishoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg. Wie ore het om te hoor, moet luister!"

Tuesday, 17 February 2009

Die Evangelie van Lukas, 13, gelees deur andre walters

Juis in daardie tyd het mense vir Jesus kom vertel van die Galileërs vir wie Pilatus laat doodmaak het waar hulle besig was om hulle offerdiere te slag.
2

Toe antwoord Jesus hulle: "Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die ander Galileërs omdat dit met hulle gebeur het?
3

Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom!
4

Of daardie agtien wat dood is toe die toring van Siloam op hulle ineengestort het, dink julle dat hulle skuldiger was as al die ander inwoners van Jerusalem?
5

Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom."
6

Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: "'n Man het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie,
7

sê hy vir die tuinier: 'Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?'
8

Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes.
9

Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap."
10

Eenkeer op 'n sabbatdag was Jesus in een van die sinagoges besig om die mense te leer.
11

Daar was ook 'n vrou wat al agtien jaar lank gely het onder 'n bose gees wat haar heeltemal verswak het. Sy was krom getrek en kon glad nie meer regop kom nie.
12

Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê vir haar: "Mevrou, jy is van jou gebrek verlos!"
13

Toe het Hy haar die hande opgelê, en sy het onmiddellik regop gestaan en God begin prys.
14

Die hoof van die sinagoge was verontwaardig omdat Jesus op die sabbatdag iemand gesond gemaak het. Hy sê toe vir die mense: "Daar is ses dae in die week waarop 'n mens moet werk. Julle moet op een van daardie dae kom om julle te laat gesond maak, nie op die sabbatdag nie."
15

Toe sê die Here vir hom: "Julle huigelaars! Maak elkeen van julle nie op die sabbat sy bees of sy donkie van die krip los en lei hom weg om hom te laat suip nie?
16

En hier is 'n vrou, 'n kind van Abraham, wat werklik al agtien jaar lank deur die Satan gebind is. Mag sy dan nie op die sabbatdag van hierdie band losgemaak word nie?"
17

Deur dit te sê, het Jesus al sy teenstanders laat skaam kry, maar die hele skare was bly oor al die wonderbaarlike dinge wat Hy gedoen het.
18

Jesus het gesê: "Hoe is die koninkryk van God? Waarmee kan Ek dit vergelyk?
19

Dit is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy tuin geplant het. Dit het gegroei en 'n boom geword, en die voëls het in sy takke kom nes maak."
20

Verder het Hy gesê: "Waarmee kan Ek die koninkryk van God vergelyk?
21

Dit is soos suurdeeg wat 'n vrou geneem en in twintig kilogram meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was."
22

Terwyl Jesus op pad was Jerusalem toe, het Hy deur stede en dorpe gegaan en oral die mense geleer.
23

Toe vra iemand Hom: "Here, is dié wat gered word, maar min?"
24

Hy sê vir hulle: "Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.
25

"As die eienaar van die huis eers opgestaan en die deur toegesluit het, sal julle buite staan en aan die deur begin klop en roep: 'Here, maak vir ons oop!' Maar Hy sal julle antwoord: 'Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.'
26

Dan sal julle sê: 'Ons het saam met U geëet en gedrink, en op ons strate het U die mense geleer.'
27

Maar Hy sal weer vir julle sê: 'Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Niemand van julle het gedoen wat reg is nie. Maak dat julle van My af wegkom!'
28

"Daar sal julle huil en op julle tande kners wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete binne-in die koninkryk van God sal sien, terwyl julle self buitentoe weggejaag word.
29

"Daar sal mense uit die ooste en die weste kom, uit die noorde en die suide, en aansit by die feesmaal in die koninkryk van God.
30

Onthou net: Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees."
31

Op daardie selfde oomblik het 'n aantal Fariseërs vir Jesus kom sê: "U moet padgee en na 'n ander plek toe gaan, want Herodes wil u doodmaak."
32

Maar Hy sê vir hulle: "Gaan sê vir daardie jakkals: 'Kyk, vandag en môre dryf Ek nog bose geeste uit en maak Ek mense gesond, maar op die derde dag sal Ek my werk klaar maak.'
33

In elk geval moet Ek vandag en môre en oormôre die reis voortsit, want dit is ondenkbaar dat 'n profeet op 'n ander plek as Jerusalem omkom.
34

"Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!
35

Kyk, nou word julle stad aan julleself oorgelaat. Maar Ek sê vir julle: Julle sal My sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!